top of page

God se grootse magsvertoon

  • Liezel Lüneburg
  • Nov 11
  • 2 min read

Die magtige Skepper het miljoene jare gelede die aarde se kragtige fondamente gelê, die ingewikkelde afmetings wiskundig bepaal en die ewenaar oor die breedte gespan. Terwyl die sterre saamsing en die hemelliggame jubel, het God die wêreld, soos ons dit ken, aanmekaargesit en die see opgedam toe die water woedend begin uitborrel het. Hy alleen weet waar die oorsprong van die oseane is en wandel gemaklik in die wonderbaarlike tuine, wat Hyself op die seebodem uitgelê het.


Die Skepper het die nag van die dag geskei. Hy beveel die môre om wakker te word en in die daglig word die aarde se sferiese vorm sigbaar, soos klere wat aangetrek word. In die vroegaand steek die donker kop uit, ontwaak die nag.


Die aarde is magtig en tog het die Skepper perke daaraan gestel: “Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe.” 


Hoe kan ons ooit ʼn gedetailleerde beeld van die wye wêreld vorm? En tog is die aarde maar ʼn mikroskopiese kolletjie in die groter heelal, wat steeds groei en gedy en waarvan ons nooit die einde sal ken of begryp nie. Kan jy die konstellasies van die hemelliggame vasknoop of losmaak? Bepaal ons wanneer die sterre, presies op die regte tyd, verskyn en weer verdwyn?


Die reën, hael en sneeu sak oor die aarde uit en net God verstaan die fases van water: vastestof, vloeistof en gas. Ons kan nie eens ons stemme tot by die wolke hoorbaar maak of weerligstrale uitstuur nie. En die wind? Net Hy verstaan presies wat die wind wakker maak, waar dit vandaan kom en waar dit heen gaan.


Die Skepper het verstand aan ibisse gegee en insig aan ʼn haan om te weet wanneer die dag breek. Hy voorsien kos aan die ganse skepping en bepaal wanneer die bokke lam.


God het ook aan die wildedonkie sy vryheid gegee en aan die volstruise die onvermoë om te vlieg. Tog is hulle met wysheid geseën en wanneer hulle met vlerke omhoog hardloop, skop hulle stof in die oë van die ruiter en perd.


Daar is dinge wat ons nooit sal verstaan nie: Hoe ʼn aasvoël in die lug bly, hoe ʼn slang teen ʼn rots opseil. Hoe ʼn skip op die diepsee vaar en hoe die liefde tussen ʼn man en vrou werk. 


heeDie skepping is ʼn vertoon van God se grootheid en almag en die mens is maar net ʼn spikkel op die aarde. Tog is ons die kroon van die skepping: “Wat is die mens dat U aan hom dink, ʼn mensekind dat U na hom omsien? U het hom ʼn kort tydjie minder as die engele gemaak; U het hom met heerlikheid en eer gekroon; U het alles aan hom onderwerp.” 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page