Moenie ʺleegtesʺ maak van mekaar nie
- Roedolf Botha
- 2 days ago
- 4 min read
In een van die nuutste superheldflieks, Thunderbolts, wat hierdie jaar begin draai het, word ‘n groepie verworpe losers die superhelde van die wêreld. Hulle kom uit onvolmaakte, gebroke omstandighede, agterlike families en twyfelagtige omgewings. Tog word hulle die goeie mense wat die wêreld uiteindelik van ondergang red. My ervaring van die fliek het my laat dink aan die vroeë kerk.
Een van hierdie superhelde se naam is eenvoudig Bob. Bob het die sagste en mees beleefde persoonlikheid en almal hou van hom, tot op ‘n dag. Die rede is dat Bob uit ‘n agtergrond van ekstreme verwerping deur sy pa, ma en die res van die samelewing kom. Alhoewel almal in die Thunderbolt-span vir Bob aanvaar, voel hy nooit “in” nie, beleef hy nooit dat hy werklik deel van die span is nie. Hy voel soos ‘n vyfde wiel aan die wa. Dit laat ‘n leegte binne-in hom, wat hom laat voel dat hy niks anders het om te bied as om sy donkerte en gevoel van leegheid met die wêreld te deel nie. Dit beteken dat hy sy eie gevoel van leegheid na almal rondom hom versprei. So begin hy baie medemense vernietig totdat hy later die hoofskurk in die storie word. Hulle noem hom eenvoudig The Void. Die leegte. Hy self is geheel en al leeg aan sy binnekant en hy word die groot leegmaker, wat die hele stad later in ‘n gevoel van leegheid, eensaamheid en hopeloosheid dompel. ‘n Superheld word die superskurk.
Die Thunderbolts het hard probeer om hom te stop. Eers probeer hulle hom oortuig dat hy nie alleen is nie, dat hulle van hom hou. Die een argument na die ander word probeer. Niks kan tot hom deurdring nie. Later is hulle verplig om geweld teen hom te begin gebruik, net om sy vernietigende effek op die samelewing te stop. Niks help nie. Hoe meer hulle hom probeer keer, hoe groter raak sy leegte. Visueel word dit uiters effektief in die prent uitgebeeld. Soos wat die gevoel van leegheid binne-in hom toeneem, raak sy fisiese voorkoms donkerder en donkerder totdat hy uiteindelik net een groot donker swart leegte is met twee blink oë wat onheilspellend gloei. Die Leegte. Dit is sy naam.
Soos ‘n goeie storie eindig dit egter goed. Heel aan die einde van die fliek doen die Thunderbolts iets wat alles vir The Void verander. Hulle toon die eerste daad van tasbare liefde teenoor hom. Terwyl hy hulle uit die weg probeer ruim gryp hulle as groep hom net eenvoudig vas en omhels hom, terwyl hulle hulle liefde teenoor hom uitdruk en hom verseker dat hulle altyd daar vir hom sal wees. Terwyl hulle hom liefdevol vashou kan die fliekkyker sien hoe die donker uit sy persoon begin verdwyn. Die Void raak kleiner en die menslike kleur kom weer terug. Wanneer hy homself egter elke nou en dan uit hulle greep losruk, keer die donker weer terug, totdat hulle hom weer vasgegryp kry en die kleur weer begin terugkeer. Uiteindelik verlaat alle donkerte hom en keer hy terug na die gewone, liefdevolle Bob.
‘n Paar belangrike gedagtes het by my hieroor opgekom.
Ek wonder of mense nie vandag op die verkeerde manier probeer om die wêreld te herstel nie. Goeie opinies word gebruik, argumente hierdie kant toe en dan daardie kant toe. Ons het ons eie impak vir Jesus begin meet aan die goeie opinies wat ons dink ons huldig. Natuurlik is dit so dat gesonde opinies belangrik is aangesien die Bybel ons motiveer om die waarheid na te jaag. Goeie gesprek en gesonde dialoog was nog altyd die manier waarop mense mekaar kon vind. Maar dis nie meer vandag genoeg nie. Die wêreld is te gepolariseerd en mense hoor mekaar nie meer in gesprekke nie. Die waarheid moet eerder sigbaar gemaak word en die liefde moet deur dade en opofferings aangetoon word. Die liefde moet deur ons optredes lyf kry. Die diep leegte in die meeste mense sal net dieper raak en niks sal hulle oortuig nie. So blyk dit vir my te wees. Die sonde in mense, wat al die gemors veroorsaak, voed op die realiteit dat almal voel asof die hele wêreld teen hulle is, dat almal hulle as vyande hanteer. So raak mense al hoe meer eensaam en depressief. Vir die evangelie is vyande egter nie onpersoonlike entiteite wat uitgewis moet word nie, maar wat liefgehê moet word. Baie gebruik vandag Jesus se naam om teen mense op te tree en selfs geweld teen ander te gebruik. Jesus leer ons egter om nie terug te slaan nie en die ander wang te draai, die tweede myl te loop saam met jou vyande. Slegs dan sal hulle Jesus in ons raaksien. Ons kan stry soos ons wil, ander mense probeer oortuig van ons bedoelings en goeie idees. Dit gaan niks verander nie. Dis slegs die liefde van Jesus wat die wêreld kan verander. Dis net Kruis-liefde wat kan veroorsaak dat die vernietigende leegtes in ander met die volkleur van die Goeie Nuus gevul word.
Ek probeer nie simplisties wees nie. Ek besef regerings moet harde besluite neem en hulle eie mense beskerm. Ek besef dat komplekse politieke strategieë ook belangrik is. Dis goed en reg so. Die kerk moet egter nie op slegs hierdie goed staatmaak nie. Terwyl die goeie mense in die land probeer om ander reg te praat, moet die kerk sy roeping aangryp en besef ons moet praktiese, konkrete stories deur ons eie optredes skep, waar mense aan hulle vel beleef dat ons hulle liefhet, werklik liefhet.
Ons eie pyn en seer kan ook nooit as ‘n verskoning gebruik word om maar in groot Leegmakers, soos The Void, te verander nie. Ons moet in hierdie mooi land van ons vergewe en stories van empatie, liefde en genade skep, wat aan almal hulle Jesus-kleur kan teruggee.




Comments