top of page

Moenie wag vir ander om die wêreld beter te maak nie

Stephan Joubert
2 hours ago
2 min read

Teks: Hebreërs 11:24


Kom ons wees eerlik: die meeste mense hier op aarde se lewens verloop nie soos wat hulle dit beplan het nie. Te veel mense voel in hulle harte hulle is ’n mislukking. Wel, dan moet ons hulle vandag nog gaan help om anders te dink en te voel. Die fyner kuns van geloof is om klein dingetjies vir hulle te doen, wat ’n nuwe venster op God se genade bokant hulle lewens sal oopmaak. Die kuns is om gewone oomblikke te omskep in Goddelike oomblikke in hulle lewe.


Moenie wag totdat ander mense van die wêreld ’n beter plek maak nie. Moenie wag op die res van die mensdom om die lewe lekkerder te maak nie. Dan gaan jy jou ganse lewe om wag. Moet ook nie wag totdat ‘n hemelse trompet iewers langs jou begin blaas voordat jyself in beweging kom nie. Die trompet het lankal al geblaas! Jesus is lankal hier. Sy Gees ook. Die hemele is oop. Gaan skep spesiale oomblikke in die Here se Naam! Moenie een aand gaan slaap sonder so ‘n spesiale moment in jou dag waarin jy gekies het om vir minstens een persoon ’n beker koue water aan te gee nie. Of om ’n stukkie feeskos met hulle te deel nie. Of om hulle te seën met ’n gebed, ’n sagte woord, of ’n stukkie hulp nie. Wees ‘n daagliks skepper van spesiale oomblikke in die gewone lewe, wat ander mense se wêreld omraam met hemelse krag en blydskap. 


Gebed: Dankie dat ek op die uitkyk kan wees vir spesiale oomblikke. Mag dit voortdurend deur my en met my gebeur. Mag ek dit aanhoudend vir ander mense in u Naam skep.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page