Geen hemelse “hitman”
Sosiale media bombardeer ons gedurig met eenlyners wat mooi klink. Neem maar die volgende een: “God removed people from your life because He heard conversation you didn’t hear.” Dit klink diep, soos wat een van my vriende sou sê. Maar dit is net veldiep, want dit slaag nie die Bybelse toets nie.
God is nie ’n hemelse “hitman” wat almal uit die pad moet kry wat vir onsself ’n bedreiging is nie. Ja, ons moet bid dat God ons sal bewaar. Maar dit beteken nie ons verskraal Hom tot ‘n hemelse lyfwag wie se werk dit is om gedurig alle ongure mense van ons af weg te hou nie. Dan sou Handelinge, wat gedurig vertel van al die vervolging wat gelowiges moes deurstaan, nooit in die Bybel gewees het nie. Dan sou 1 Petrus, wat leer hoe ons as gelowiges moet optree wanneer bose mense ons vervolg, ook nie die kanon gehaal het nie. Of 2 Korintiërs, waar Paulus vertel van sy eie lyding vir Christus. Of Openbaring, waar gelowiges ook as martelare uitgebeeld word.
Die Here is áltyd by ons, selfs al verkeer ons in gevaarlike situasies. Daarom is daar meer tekste in die Bybel wat sê dat God ons in gevaar bewaar, eerder as dat Hy gevaar van ons af weghou. Hoor weer: daar is meer Bybeltekste wat sê God bewaar ons in gevaar eerder as dat Hy ons hiervan vrywaar. Dit is juis hierdie Bybelse waarheid wat ons vrymaak.




Comments