top of page

Lees die Bybel beter, dan leef jy sommer ook beter

  • Stephan Joubert
  • 45 minutes ago
  • 2 min read

Teks: Psalm 1:2


Bybelvaardighede is op ‘n absolute laagtepunt hier in ons dag. Te veel mense wat die Bybel lees soek te veel kortpaaie. Pleks dat hulle die Bybel bestudeer, verkies hulle om “Skrif te kry”, soos wat almal dit noem. Of iemand “gee Skrif” vir hulle en dan ignoreer hulle die res. “Skrifkry” is vir hulle om een of ander vers by die Here self te kry, los van al die ander verse. “Skrifkry” is gelyk aan een of twee tekste wat uit die Woord verwyder word en dan spesiaal vir persoon A of B gegee word. 


Ja, God praat deur Bybelverse ook, maar Hy het die héle Woord aan ons in verhaalvorm gegee en ook in ‘n paar ander stylvorms. God praat nie maar net in losstaande frases, sinne of verse nie. Hy is definitief nie die groot vers-God nie. Die Bybel is ook nie die groot vers-boek nie. As ons die Bybel nie respekteer deur dit reg te lees nie, dan hoor ons God verkeerd. Daarom gryp die volgende woorde van Eugene Peterson my so aan. Hy skryf iewers: “Exegesis is loving God enough to listen carefully to what He says.” Goeie uitleg van die Woord vra toewyding en harde werk, maar die beloning is hemelse goud werd! Om ernstig en aanhoudend met die Bybel op reis te wees, is om dieper in die skatkamers van die Allerhoogste ingenooi te word. Oordink dit dag en nag soos wat Psalm 1 ons leer. Doen dit en groei!


Gebed: Hoe lief het ek U Woord. Ek kan dit nie genoeg lees en bestudeer nie. Laat my vandag asseblief nog nuwe skatte hierin vind, Here.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page