top of page

Leer by ‘n fynkenner van die regte momente!

Stephan Joubert
11 hours ago
2 min read

Teks: Nehemia 2:11


In die tyd van die Persiese koning Artasasta, was Nehemia sy skinker. Nehemia het geweet dit gaan sleg met die Jode in Jerusalem. Hulle stad het in puin gelê. Dit het Nehemia se hart gebreek. Hy het opreg vir hulle gebid. Op ‘n dag was hy juis besig om vir die koning wyn te skink, toe dié hom vra wat is fout. Toe vertel Nehemia hom van sy mense se lyding. Die koning wou dadelik weet hoe kan hy help. Op daardie oomblik het Nehemia ’n vinnige skietgebed na die God van die hemel opgestuur. Hierna het Nehemia vir die koning gevra of hyself na die landgebied van Juda kan terugkeer sodat hy die stad van sy voorvaders kan herbou. Die koning het ingestem.


Praat van ‘n connoisseur van die regte oomblikke, dan is dit Nehemia! Hy het die situasie voor hom presies reg gelees! Hy het gesien die regte oomblik is op hande. Toe stuur hy blitsvinnig ‘n skietgebed hemelwaarts. Hierna vra hy toe die koning se hulp. In daardie oomblikke is ‘n volk se geskiedenis ingrypend verander omdat een man ‘n alledaagse gesprek as ‘n Goddelike moment aangegryp het! Hoeveel kere vantevore het Nehemia en die koning nie al oor dag-tot-dag dinge gesels nie, maar daardie dag was dit anders. Daardie dag moes Nehemia in die bres tree vir sy mense wat in groot nood verkeer. Toe gryp hy die breukdeeltjie van ‘n sekonde aan wat koning Artasasta hom gebied het en omraam dit met hemelse goud! Leer by hom om alle situasies reg te lees.



Gebed: Here van hemel en aarde, ek wil ’n fynkenner van die regte situasies en omstandighede wees. Gee vir my die regte woorde op die regte tyd.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page