Koffie is nie genoeg nie
- Stephan Joubert
- 14 hours ago
- 2 min read
Teks: Kolossense 3:13
“Ek was verkeerd, maar kom ons gesels daaroor oor ’n koppie koffie.” Ken jy ook sulke tipe opmerkings? Ander mense loop jou onder die stof, maar dan meen hulle ’n vinnige koffie kan ’n groot onreg of ’n lang tyd se seermaak in een kuier wegneem. Hulle dink ’n haastige ekskuus is genoeg salf vir sulke diep wonde. Wag, voordat jy my verkeerd hoor: natuurlik moet ons mekaar vergeef. Daarom is woorde soos “ekskuus” of “Ek is jammer wat ek jou aangedoen het” ook lewensbelangrik wanneer vergifnis ter sprake is. Dit is wat die Bybel ons leer. Ons hoef nie eers aan geheueverlies te ly, voordat ons oor of voor begin met mekaar nie. Of voordat ons daardie goor boeke toemaak waarin gister en eergister se onregte in ons eie koppe opgeskryf is nie. Nogtans is vergifnis nie maar net ’n vinnige ekskuus en dan gaan dinge aan asof niks verkeerd gebeur het nie.
Vergifnis, die Here se soort, vra om offers en opoffering. Dit vra meer as net ’n vinnige ekskuus per mond van die kant van oortreders. Dit vra reg doen en reg leef teenoor die benadeeldes. Maar dit vra ook dat diegene wat ingedoen is, vergifnis moet bewys en moet ophou om wrokke saam te dra en die oortreders gedurig aan hulle foute te herinner. Die Here roep ons op tot hierdie baie hoë standaard. Genadiglik stap Hyself ook saam op die moeilike pad wat ons in woord en daad na mekaar toe moet aandurf.
Gebed: Here, help my tog om nou eens en vir altyd al daardie ou boeke waarin ek ander mense se foute en oortredings onthou, toe te maak.
