Kersfees en Kersgeskenke
- Alet Gardner
- 38 minutes ago
- 2 min read
Kersfees kom nader en dis tyd vir wenslysies. Die opdrag: “Enigiets van ‘n rubberballetjie tot ‘n Ferrari.” Ons begin dink aan nodige, sinvolle items, of sommer net iets uitspattigs vir die lekkerte. Party se begroting kan ‘n rubberballetjie vir elk haal, ander kan die hand dieper in die sak steek (of die kredietkaart verder laai) en dalk halfpad tot by die Ferrari kom.
Ons beplan aan ‘n tradisionele Kersboom, of dalk liewer ‘n meer moderne, minimalistiese draadboom of ‘n droë boomtak, wat nie te veel plek opneem nie. Geskenke word met moeite toegedraai, afgerond met mooi lint en ‘n kaartjie met goeie wense. Om van die spesiale maaltye, wat hierdie Fees gepaard gaan, nie te praat nie. Feestyd, familietyd.
Die versoeking is groot om te vergeet waaroor Kersfees eintlik gaan: Christusfees, die viering van die Grootste Geskenk ooit. ‘n Geskenk, wat bloedgeld gekos het, toegedraai met kosbare, duur vergifnispapier, afgerond met ‘n waardevolle genadefluweel lint en ‘n kaartjie wat sê:
“Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
– Johannes 3:16 AFR53
As ek werklik die waarde van hierdie Geskenk besef, gaan ek Hom waardeer en uit dankbaarheid vir die Gewer ‘n ereplek in my lewe gee. Dan sal ek Sy voorbeeld volg en nie net vir my naastes nie, maar ook vir my (dalk moeilike) naaste seën met die waardevolle geskenk van liefde (die “ten spyte van en nie as gevolg van nie”-soort). Ek sal hulle makliker seën met die seën van vergifnis en onvoorwaardelike liefde, weer en weer. En, as ek oorweldig raak deur die las van Kersgeskenke (veral hierdie duur liefde-en-vergifnistipe), het ek die nagekome belofte van ‘n hemelse Helper, die Gees van God, wat vir my krag en wysheid gee.
Dan kan ek opreg sê: “Geseënde Kersfees!” en ons Kersvierings en daardie heerlike Kersmaal kan waarlik geseën wees.




Comments