Wanneer Jesus sê: Volg My
- Helena Smith
- 1 hour ago
- 2 min read
Daar is ‘n oomblik in Matteus 9:9 wat te goed klink om waar te wees: “Toe Jesus daarvandaan verder gaan, sien Hy ‘n man met die naam Matteus by die tolhokkie sit. Hy sê toe vir hom: ‘Kom! Word my dissipel!’ Matteus het opgestaan en Jesus se dissipel geword.”
Daar was geen debat, voorwaardes of onderhandelinge nie. Matteus het weggestap van alles wat vir hom bekend was. Weg uit sy gemaksone. Hy het sy werk, inkomste en sy sekuriteit prysgegee om Jesus te volg.
Matteus was ‘n tollenaar. Dit tollenaars was Jode, wat vir die heersende Romeine gewerk het om belasting en tolgeld by die stadshekke in te vorder. Die Jode het nie van die Romeinse heersers gehou nie. Hulle ook nie die tollenaars vertrou nie, omdat hulle daarvoor berug was dat hulle hulleself met belastinggeld verryk het. Hulle is as sondaars en verraaiers beskou, omdat hulle met die Romeine saamgewerk het.
Toe Jesus hom as dissipel geroep het, het Matteus nie tyd gehad om eers sy lewe reg te ruk nie. Hy het ook nie vir tyd gevra om hierdie saak te oordink nie. Hy het Jesus doodgewoon in totale oorgawe gevolg.
Nou kom ek en jy voor die ongemaklike vraag te staan: sou ons dieselfde doen?
Jesus vra ons om daardie dinge agter wat ons in daardie gerieflike “tolhokkie” hou, agter te laat. Partykeer is dit slegte gewoontes, sondes of ongesonde verhoudings. Sommige dinge, wat ons moet agterlaat, is meer subtiel: ons behoefte om in beheer van sake te wees, gemak, goedkeuring van mense of sekuriteit.
Soos ons uit Matteus leer, roep Jesus nie perfekte mense nie. Hy roep gewillige mense. Matteus se lewe was allesbehalwe uitgesorteer. Tog was hy dadelik gewillig om Jesus te volg.
Wat is dit wat jou in daardie “tolhokkie” hou? Jesus vra jou om sekere dinge te laat vaar juis omdat Hy iets beters vir jou in gedagte het. Om Jesus met oorgawe te volg kan vir jou klink na ‘n duur prys. Dink dan aan die ontsettende duur prys wat Jesus vir ons aan die kruis betaal het. Matteus se verhaal herinner ons daaraan dat om Jesus te volg, tot ‘n oorvloedige lewe lei. Dit is die enigste pad na ware vrede en vreugde.
As Jesus sê: “Volg My”, beteken dit ‘n totale oorgawe. Dit beteken dat jy gehoorsaam sal wees en nie selfbehep nie. Dit beteken dat die volgeling naby aan die Leier sal bly.
As jy Jesus volg, beteken dit dat jy ook ‘n visser van mense sal wees. Jou woorde en dade sal mense na die Jesus-pad lok.
As jy vandag Sy stem hoor, moenie bly sit nie! Staan op en volg Hom.




Comments