Sing is ‘n vreugde en ‘n opdrag
- Elmarie van der Westhuizen
- Jun 3
- 2 min read
“He who sings, prays twice." - St. Augustinus
Sing is iets wat ons almal op een of ander stadium in ons lewens doen, of dit nou as kind by die skool is, in die privaatheid van die stort, as deel van ‘n koor of bloot net vir die plesier daarvan.
Om te sing is maklik, dis verniet en het ‘n hele string gesondheidsvoordele. Sang verlaag kortisol en verlig stres en spanning en dit verbeter ook depressie en gevoelens van eensaamheid.
Lofprysing word dikwels verbind met sang in die kerk, maar vir ’n Christen is dit soveel meer. Dit is ‘n manier om God te eer in die alledaagse van die lewe, ’n leefstyl. Sang help ons om ons gedagtes op God te fokus, selfs wanneer woorde alleen nie altyd genoeg voel nie.
Die Bybel moedig ons aan om “in alles dankbaar te wees” (1 Tessalonisense 5:18). Sang is een van die mooiste maniere om hierdie dankbaarheid uit te druk. Wanneer jy dan sing – of dit nou hardop of stil in jou hart is – herinner jy jouself aan God se goedheid en beloftes. ’n Eenvoudige geestelike lied, terwyl jy regmaak vir die dag, kan jou help om van die begin af jou fokus op God te plaas en stel die toon vir die res van die dag.
Gebruik die klein oomblikke van elke dag, terwyl jy ry, kook of stap, om ‘n geestelike lied te sing, of selfs net ’n eenvoudige refrein te herhaal. Hierdie klein oomblikke bou ’n konstante bewussyn van God se teenwoordigheid. In moeilike tye, wanneer jy moedeloos of angstig voel, kan jy doelbewus kies om ’n lied van lof te sing en weereens op hierdie manier opnuut vrede en nuwe krag hê.
Jy hoef nie ’n perfekte stem te hê nie – God kyk na jou hart. Selfs ’n sagte neurie of lied is vir Hom kosbaar. Lofprysing in die alledaagse lewe gaan nie oor groot gebare nie, maar oor ’n hart wat voortdurend op God gefokus is – deur woorde, deur dade en deur sang. Wanneer jy begin om selfs die kleinste oomblikke met lofliedere te vul, word jou hele lewe ’n melodie wat God verheerlik.
Ons sing omdat die God, wat ons gered het, goed, getrou, genadig, medelydend en Almagtig is. Dis omdat Hy ons lof verdien, selfs in die vorm van ons swak en onvolmaakte sang, soos Psalm 92: 2 – 5 (DB)
“Allerhoogste Here, dit maak my baie bly om vir U ’n danklied te sing.
Ek wil liedere sing om aan U eer te gee.
Vroeg in die môre wil ek van u groot liefde vertel.
In die aand wil ek uitjubel dat U altyd op u pos is. U slaap nooit nie.
Ek wil dit uitsing met die geklank van viole, kitare, harpe en liere.
Here, ek sal sing, want U het my lewe vol blydskap gemaak.”




Comments