top of page

Jy kan nie deeltyds vir die Here werk nie … Nee, jy kan nie!

  • Stephan Joubert
  • Feb 27
  • 1 min read

Teks: Markus 2:14


“Ek is geroep om voltyds vir die Here te werk,” sê 'n teologiestudent eendag vir my. “Bestaan daar enige ander opsies wanneer die Here jou roep tot Sy diens?” vra ek dadelik. Miskien was dit oorhaastig aan my kant, maar te veel mense dink ’n roeping is sinoniem met predikantwees. Of om ‘n sendeling of ’n jeugwerker te wees. Dit is amper asof sulke voltyds betaalde kerklike werkers die alleenreg het op “voltydse” roepings in die Here se diens. Tog is Jesus se basiese oproep aan alle gelowiges presies dieselfde. Sy oproep is tegnies vir ons almal net twee woorde lank: “Volg My!” 


Jesus roep elkeen van ons tot voltydse navolging van Hom. Daar is regtig nie verskillende roepings, vanaf na-ure, tot deeltyds, tot semi-voltyds, tot voltyds in die Here se diens nie. Hy roep elkeen van ons eerstens tot ‘n 24/7-verhouding met Hom en nie om allerlei take of opdragte vir Hom uit te voer nie. Dit volg eers hierna. Maar ons is eerste geroep om Jesus voltyds te volg, wat ons ook al doen en waar ons ook al bly. Hierdie roeping gebeur verhoudingsmatig. Ons word met ander woorde geroep om so naby aan Jesus te loop dat ons die lewe deur Sy oë sal bekyk en deur sy ore sal hoor. Dan eers sal ons weet wat om vir Hom te doen. Vanuit ons navolging van Jesus leer ons hoe om te leef en watter werk om vir Hom te doen. 


Gebed: Dit is wonderlik om te weet ek is geroep om U voltyds te volg. Ek doen dit opnuut, Jesus. Ek volg U waar U gaan.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page