Is jy ‘n weerkaatser van die Lig?
- Helena Smith
- 12 minutes ago
- 2 min read
‘n Ruk gelede het ek ‘n storie oor twee vuurtorings gelees. Langs ‘n ruwe stuk kuslyn, wat baie rotsagtig was, het vele skepe gestrand. Die owerhede het toe besluit om twee vuurtorings te bou. Een was ‘n gewone vuurtoring met ‘n helder lig daarin. Die tweede vuurtoring het geen lig van sy eie gehad nie, maar ‘n groot spieël. Dit het die lig van die eerste vuurtoring perfek op die see weerkaats. So het die gekombineerde lig van die twee torings die skepe deur veilige waters gelei.
As ons as Christene waarlik lig en hoop vir die wêreld wil wees, moet ons op God se golflengte ingeskakel wees. Ons harte gedagtes en dade moet in ooreenstemming met Sy wil wees.
God se plan met ons lewens is om Sy lig te weerkaats. Ons het nie lig van ons eie nie, maar as ons perfek in lyn met God lewe, sal ons Sý lig weerkaats. Dit sal beteken dat ons ons eie ambisies en idees moet prysgee en begeer wat God begeer. Dit sal beteken dat God meer moet word in jou lewe en jy minder.
As ‘n mens God se lig wil weerkaats, moet ‘n mens sonde in jou lewe beslissend hanteer. Die duiwel se strategie is om ons sensitiwiteit vir die Heilige Gees af te stomp en sonde begeerlik te laat lyk. Bely jou sonde en draai weg daarvan.
As jy ‘n weerkaatser van God se lig wil wees, is dit nodig dat jy geestelik reg geposisioneer is. Jy moet naby aan jou Ligbron bly. Bestee tyd saam met hom. Lees geestelike boeke en woon eredienste by. Praat mét Hom en óór Hom.
‘n Ligweerkaatser is ‘n positiewe mens. ‘n Engelse vriendin het onlangs vir my die volgende aanhaling gestuur: “Today I learned about a term called ‘glimmer’. ‘Glimmer’ are those moments in your day that make you feel joy, happiness, peace or gratitude. Once you train you brain to be on the lookout for ‘glimmers’, these tiny moments will appear more and more.” Negatiewe mense kan nie God se lig weerspieël nie. Positiewe mense trek ander aan.
Vra God om jou te gebruik in sy Koninkryk. Reik uit na ander en laat jou lig en warmte hulle aanraak.
In Johannes 8:12 lees ons: “Wat lig beteken vir iemand wat in die pikdonker sit, beteken Ek vir mense op geestelike gebied. Daarom sal iemand wat My volg se lewe nie sinloos wees soos dié van iemand wat in die donker rondstrompel nie. Hy sal sy lewe sinvol kan leef omdat hy sal kan sien wat om te doen om God tevrede te stel.”.




Comments