top of page

Hy is nie maar net “die Man daarbo nie”

  • Stephan Joubert
  • 1 day ago
  • 2 min read

Teks: Matteus 1:23


“Die man daarbo”, “the man upstairs.” Het jy ook al hierdie uitdrukkings gehoor? In sommige geselskappe word daar graag op sulke maniere na die Here verwys. Elke keer wanneer ek dit hoor, krap dit aan my siel. Nou die dag was die gekrappery een te veel, want toe vra ek summier vir iemand wat dit kwytraak: “On which floor?” Die ou het nie mooi verstaan nie. Toe sê ek vir hom hy het dan gepraat van die man “upstairs” en ek wil net weet op watter vloer bokant hom woon daardie man? 


Jesus is nie maar net iemand daarbo nie, Hy is ook hieronder. Hy is oral. Die Bybel sê Hy is Immanuel. Dit beteken: God by ons. So sê die engel wanneer hy Jesus se geboorte in Matteus 1 aankondig. Ook hoor die dissipels dit in Matteus 28 as Jesus op die punt staan om terug te keer na Sy Vader se hemelse huis. Dan sê Hy vir hulle: “Ek is by julle al die dae tot aan die einde van die wêreld.” Jesus hou ons nie maar net dop “from a distance” nie. In ons wêreld, waar almal deesdae gode en superhelde wil wees, het Jesus gekies om mens te kom wees. Hy het ons pyn kom voel. Hy het ons laste kom dra. Hy het in ons plek kom betaal wat ons nooit kan betaal nie - al ons skuld by God. Jesus het ’n brug gebou al die pad vanaf die hemel en terug. Hy is Immanuel. Ons kan Hom dus reg aanspreek. Hy is die Here, hiér en dáár!


Gebed: Dankie, Here Jesus, U is by ons. U is Immanuel. Nou en vir altyd.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page