Hier is twee dinge wat God wel vir ewig oor jou onthou
- Stephan Joubert
- 2 hours ago
- 1 min read
Teks: Matteus 10:42
God het ’n langtermyngeheue. Hy onthou alles wat Hy wil onthou vir ewig. In die Bybel leer ek dat daar ten minste twee dinge is wat God tot in ewigheid oor ons as Sy kinders wil onthou. Die eerste ding is dat Hy vir altyd sal onthou om ons as Sy kinders styf in Sy hand vas te hou. Jesus vertel in Johannes 10:28-30 dat niemand ons ooit uit God se hand sal wegruk nie. Hoor weer: God onthou ons nie net vir ewig nie; Hy hou ons ook vir ewig styf vas! Hy sorg dat ons Syne is, vir tyd en ewigheid.
Daar’s ’n tweede ding wat God nooit van ons sal vergeet nie. Hy sal naamlik elke goeie daad onthou wat ons in Sy Naam doen. In Matteus 10:42 sê Jesus dat as ons vir een van Sy knegte iets klein, soos ’n beker koue water, gee, sal God dit onthou en dit terugbetaal. In Lukas 14:14 leer Jesus dieselfde. Hy sê hier dat as ons die armes, kreupeles, verlamdes en blindes na ’n feesmaal uitnooi, sal God dit vir altyd in gedagte hou. Hy sal elkeen wat dit doen op die laaste dag daarvoor eer. God het ’n langtermyngeheue vir goeie dade wat ons in Jesus se Naam doen. Elke beker koue water, elke daad van liefde word deur God raakgesien … en onthou! Doen dit. Doen dit meer en meer. Dan is daar sommer baie dinge waaroor die Here jou vir ewig sal onthou.
Gebed: Heer, U langtermyngeheue is ewig. Dankie dat daarin ook vir my plek is. Dankie dat U my vir altyd onthou.




Comments