top of page

Fiksheid met ewigheidswaarde

  • Elmarie van der Westhuizen
  • 23 hours ago
  • 2 min read

Deesdae kan ‘n mens skaars straat-af kyk of daar is ‘n hardloper of twee, wat hulle daaglikse oefening inkry. Loer by die gym in en dis stampvol gesondheidsbewustes, van wie die sweet aftap. Hierdie strewe na fisiese fiksheid is natuurlik goed vir liggaam en siel, soos wat die ou Grieke geglo het. Paulus het egter in sy brief aan Timoteus gewaarsku dat ons nie die heel belangrikste oefening moet afskeep nie:


“Jy moet oefen om dit te doen soos ’n atleet oefen om fiks te bly. ’n Atleet, wat oefen om fiks te bly, doen goed, maar dit help nie vir alles nie. Om egter geestelik te oefen om fiks te bly deur God te dien, is regtig die moeite werd. Dit help ’n mens op alle maniere, vir die lewe hier op aarde én die lewe, wat vir ons wag in die toekoms.”

1 Timoteus 4:8 DB


Daniël, een van drie goewerneurs van koning Darius in die Babiloniese Ryk, was daarop gefokus om soos ‘n wafferse topatleet “geestelik te oefen om fiks te bly deur God te dien”. Ten spyte van die feit dat dit lewensgevaarlik was, het hy 3 maal ‘n dag tyd in gebed voor die Here spandeer. Hierdie geestelike “fiksheid” het hom goed te pas gekom in die “maraton” in die leeukuil. 


Ek kan ook soos Daniël geestelik fiks en sterk raak om die geestelike en emosionele maratonne van die lewe te kan hardloop. Dit is nooit te laat om te begin nie en daar is verskeie maniere om geestelik fiks te word. Ek kan begin met ‘n manier, wat by my persoonlikheid en omstandighede pas en dit verder uitbou om al hierdie stappe in te sluit:


  1. Om sommer net stil te word in God se teenwoordigheid, waar ek fokus op

    wie Hy is, wat Sy karakter is.

  2. Spandeer tyd in die Woord: Al begin ek met 15 minute persoonlike Bybelstudie soggens of saans, gaan ek geestelik “fikser” word.

  3. Bid en oordink Sy Woord:

    “Jy moet hierdie wetboek van vroeg tot laat lees. Dink dag en nag daaroor na en maak seker dat jy alles doen wat daarin geskryf staan. Dan sal dit met jou goed gaan. Dan sal jy sukses behaal.” (Joshua 1:8, Die Boodskap)

  4. My manier van dink verander. Terwyl ek tyd in persoonlike Bybelstudie spandeer, gee ek God geleentheid om my denke te vernuwe. (Romeine 12:2)

  5. Om ander met my tyd en liefde te dien, soos wat Jesus dit gedoen het. (Matteus 20:28)


Ek gaan nie oornag verander nie, maar soos wat ek meer en meer tyd by God spandeer, sal ek ervaar hoe ek geestelike spiere en stamina bou, sal ek groei om al hoe meer soos Jesus te wees. 


"He who runs from God in the morning, will scarcely find Him the rest of the day.”  - John Bunyan

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page