Die kruis of ‘n six-pack?
- Roedolf Botha
- Jul 1
- 4 min read
Ons almal luister na geestelike leiers. Ek ook. Dis deel van die proses van geestelike volwassewording. Ons het almal geestelike mentors nodig. Ook dominees en pastore het geestelike leiding nodig. Ons almal luister na mense. Daarom is dit nogal belangrik om te weet hoe om sulke leiers te beoordeel. Daar is goeie leiers, maar ook so baie ontroue leiers; of geestelike leiers wat nonsens praat, al is dit met goeie bedoelings. Hoe besluit ‘n mens watter leiers is goed om na te volg? Dis nie altyd so eenvoudig nie. Dit laat my dink aan ‘n storie wat my goeie vriend, Tom Smith, vir my vertel het. Hy het ‘n vriend in die VSA wat besig was in die gimnasium toe ‘n predikant vir hom kom vra het of hy sou omgee om die rol van Jesus te speel in hulle volgende Paasopvoering. Dié vriend van Tom was egter verbaas aangesien hy nie die predikant geken het nie. Hy vra toe die leraar waarom dié persoon wil hê dat juis hý die rol van Jesus moet speel, waarop die predikant toe antwoord:
“Wel, jy is aantreklik en jy’t ‘n six-pack.”
Gelukkig het hierdie vriend van Tom die wysheid gehad om die rol van die hand te wys. Jesus moet met ‘n six-pack uitgebeeld word - kan jy dit glo! Maar dis hoe baie van vandag se mense hulle messias verkies. Ons hou van ‘n voorspoed-messias. Afhangende van hoe ons Jesus sien, kies ons ons leiers ook so. Sommige mense volg “sterk” leiers, aantreklik met ‘n six-pack. Ander mense volg ‘n “skatryk” Jesus wat ons gemaklik of ryk wil maak. Ander mense kies leiers wat hulle kan vermaak in ‘n erediens. Ander soek weer “dinamiese, kragtige” prediking wat ‘n skare met hulle kan meeneem. Weer ander lidmate soek mense wat roerende stories kan vertel wat die mense emosioneel kan aanraak. Ons verwagting van geestelike leiers of predikers is ongelukkig sterk deur die wêreld beïnvloed.
Dit was in die ryk stad van Korinte ook so. Die gemeente daar het verdeeld geraak omdat sommige predikers so inspirerend en dinamies kon preek soos wat Paulus maar net kon droom. Paulus het die Korintiese gemeente gestig, vir agtien maande daar gebly en toe weer vertrek. Hierna het hulle Apollos as dominee verkry. Apollos was intellektueel skerp en kon ‘n skare mense werklik na hart en siel inspireer. Hy was werklik dinamies en begeesterd. Vinnig het hy geweldige aanhang verkry onder sekere lidmate vir wie so ‘n styl van prediking en leierskap belangrik was. Ek sien dit in ons gemeente ook. Ons het ‘n span van vyf predikers. Ons het egter ook al geleer dat sommige van ons eenvoudig baie meer likes op Facebook kry as ander. Wanneer ‘n sekere ander leraar preek dan bly sommige mense eerder in die bed. Hierdie soort van ding het vir beide Paulus (en waarskynlik Apollos ook) dwars in die krop gesteek. Hy skryf in 1 Korintiërs 2:1-5 die volgende:
“Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie. Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde. Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.”
Ons weet nie of Jesus ‘n six-pack gehad het nie. Paulus sê egter dat hoe Jesus gelyk het nog nooit belangrik was nie. Wat ons wel moet weet is dat Jesus gekruisig is. Dis die swak, gekruisigde Jesus, wat Paulus in gedagte gehad het toe hy die Goeie Nuus aan die Korintiërs verkondig het. Daarom het hy sy slimmigheid, geleerdheid en spraakvermoëns teruggehou toe hy vir hulle gepreek het, juis omdat hy bang was hulle val vir sy gawes, eerder as vir die boodskap self. Vir Paulus was slegs die inhoud van die kruis belangrik. Dis kragtig genoeg. En die inhoud is Jesus aan die kruis. Die Goeie Nuus van Jesus en Golgota het geen ander frilletjies nodig nie. ‘n Gawe om goed te preek kom wel van God af. Maar ‘n preekgawe kan ‘n negatiewe afleiding word wanneer mense nie reg luister nie. Ons moet luister na die inhoud van Jesus se lewe, die kruis, en nie na hoe pragtig die persoon oorkom, hoe roerend hy praat of hoe dinamies hy is nie. Wanneer luisteraars te veel waarde heg aan en smag na die vermaak van die gawe, dan kan die inhoud van die kruis daaragter versteek word.
Wanneer ons dus in die kerk sê dat dit werklik Jesus is wat belangrik is en nie die prediker nie, dan bedoel ons dit.
Kom ons maak nie meer van ‘n leier se geestelike gawe as wat ons moet nie. Kom ons luister dieper. Kan ons die kruis hoor? Is die kruis duidelik in Sy woorde en teenwoordig in Sy lewe?
Gee my so ‘n leier. Dis genoeg.
Comments