Jy kan nie ‘n ongeluk wees nie
- Roedolf Botha
- Apr 21
- 2 min read
Die baie bekende Mafia-fliekmaker, Martin Scorsese, het die wêreld verstom toe hy een fliek in 2007 gemaak het wat glad niks met Mafia-booswigte te make het nie. Trouens, dit was ‘n fantasiefilm wat hy vervaardig het op versoek van sy seun, wat versot was op die fantasieboek van Brian Selznick, genaamd The Invention of Hugo Cabret. Toe hierdie fliek uiteindelik die skerms tref onder die titel, Hugo, was dit ‘n onmiddellike treffer.
Hugo vertel die storie van ‘n seuntjie wat sy pa verloor op ‘n baie jong ouderdom en ‘n weeskind word wat van die strate af leef. Hy was egter baie talentvol en kon, nes sy oorlede pa, byna enige meganiese apparaat herstel. Hy ontmoet later ‘n jong meisie wat ook nie meer haar ouers het nie. Met hierdie goeie vriendin deel hy sy lewe en hulle deel later diep geheime met mekaar. Sy (haar naam is Isabelle) sê toe op ‘n stadium vir hom dat sy nie weet wat haar doel in die lewe is nie. Veral vanuit haar agtergrond as weeskind, betwyfel sy haar eie bestaansreg en eie waarde.
Hugo was egter ‘n nugter, diepdenkende jong man en sê vir haar die volgende:
“I always saw the world as one big machine. Machines never come with any extra parts, you know. They always come with the exact amount they need. So I figured, if the world was one big machine, I couldn’t be an extra part. I must be here for a reason. And that means that you have to be here for some reason too.”
Jy is nie maar net ‘n ekstra voorwerp wat per ongeluk hier beland het nie. Ons elkeen is vir ‘n doel gemaak. Ons kan nie net ‘n toevallige glipsie wees nie. Ons is nie maar net toevallig hier as ‘n blindelingse resultaat van natuurlike prosesse nie. Ons lewens tel en maak saak. Daarom sê Jesus dat God oplet wat met elke voëltjie gebeur en dat ons baie meer as ‘n voëltjie werd is. Elke haar op ons koppe is getel. Daarom sê Paulus dat hy doelgerig leef, soos ‘n bokser wat nie in die lug slaan nie en soos ‘n atleet wat hardloop om te wen, want hy weet sy lewe maak saak. Hy is geskep om vir God te leef en Sy Woord aan die nasies te verkondig.
So is ek en jy. Ons is hier, in hierdie oomblik in die geskiedenis, in hierdie land, omdat God ons hier wil hê. Ons doel is om deur God liefgehê te word en om ander lief te hê en te leef vir Jesus se koninkryk. Wanneer ons dit in elke oomblik van ons lewens doen, dan tree ons op soos ‘n masjien wat nie gebreek is nie, wat geskep is vir ‘n helder en duidelike doel.
Elke deel, ek en jy, is hier vir ‘n rede.
God skep nie ekstra dele net vir in geval nie.




Comments