Die Here het nie geheime agente in diens nie
- Stephan Joubert
- Oct 17
- 1 min read
Teks: Matteus 5:16
Ons ken Jesus se woorde in Matteus 6 dat ons linkerhand nie mag weet wat ons regterhand doen nie. Hiermee bedoel Hy ons moenie spog oor dit wat ons doen vir ander nie. Maar hoe dan gemaak met Jesus se woorde ’n paar verse vroeër, waar Hy sê ons moet ons lig so laat skyn voor die mense dat hulle ons goeie werke raaksien en God verheerlik? Ek praat van Matteus 5:16. Dit word amper nooit aangehaal in gesprekke oor goeie werke nie. Kom ons sê eers vir mekaar ons mag nooit die Heer se eer steel wanneer ons ander help nie. Dit gaan nooit oor onsself nie. Nogtans moet ons ook nie so geheimsinnig oor ons goeie werke wees dat niemand ooit agterkom ons is aan diens vir die Here nie.
Die Here het nie geheime agente in Sy diens nie. Nie een van ons is in “His Majesty’s Secret Service” nie. Ons geloof moet sigbaar wees. Dit moet voelbaar wees tussen ander mense wees. Op deurdagte wyses moet ons ook goeie getuienis aflê oor ons geloof wat uitmond in goeie werke. Die heel kragtigste getuienis is egter steeds wanneer ons goeie werke vanself die regte vrug oplewer daar waar dit saak maak. Wanneer mense begin glo, wanneer hongeriges se nood aangespreek word en wanneer mense in nood se laste gedra word, skyn ons lig teen volsterkte vir die Here. Dan praat ons woorde en dade spontaan die regte soort taal, daardie soort taal wat God verheerlik.
Gebed:
Ek leef en werk openlik vir U, Here. Help my dat dit vandag duidelik sigbaar sal wees vir almal rondom my.




Comments