top of page

Oordeel van binne- nie buite

deur Ivor Swartz

Een Sondag-oggend kort na ek klaar gepreek het in een van ons dienste, kom sê die opsigter dat daar buite die kerk ‘n hawelose ou dringend na die pastoor soek. Omdat ek die enigste pastoor aan diens was, en my moegheid kon regverdig, was ek nie juis lus om na ‘n hawelose man te luister wat eintlik net sy hart gaan uitstort om op die einde van die gesprek te vra vir kos en geld nie. Soos Dominee Tienie met die hawelose man in die fliek, wou ek hom so vinnig as moontlik van my rug afkry sodat ek kon aangaan met my vrome glimlag en myself op die skouer klop oor die vele “goeie preek, pastoor”, van die gemeente af. Terloops, sê Spreuke 27:2 vir ons: “Moenie jouself op die skouer klop nie. Laat iemand anders jou liewer prys”.

Is dit nie hoe baie van ons partykeer voel nie? Wanneer ons nou al na soveel stories geluister het wat dieselfde klink, weet ons in watter tipe boksie om mense te plaas deur bloot net te kyk hoe hulle aangetrek is, waar hulle eet, waar hulle bly, wat hulle ry. Ons weet ook natuurlik hoe om met hulle in gesprek te bly, of dit vinnig kort te knip. Ons kan soms nie help om met ons soort-soek-soort lense deur die lewe te loop nie. Ek was al by soveel byeenkomste waar omtrent nie een persoon met my praat nie- tot hulle uitvind ek is die gasspreker. Dan wil hulle taamlik aan die gesels raak, drukkies gee, en sommer groete huis toe stuur ook.

In 1 Samuel 16 lees ons hoe Samuel die volgende koning van Israel moet gaan salf by die huis van Isai- Dawid se pa. Net een kyk van Samuel na Eliab- Dawid se oudste broer- en Samuel weet sy werk is klaar; volgende koning is gevind- so maklik soos dit. Hy dink skoon by homself, in 1 Samuel 16:6, “die gesalfde van die Here staan hier voor my”. Jy sien, Samuel het gekyk na hoe die volgende koning moet lyk vanuit ‘n menslike perspektief: sterk kakebeen, lank op die been, groot skouers, vol selfvertroue en dies meer. Samuel sien waarvan die ou van buite gemaak is, en opgradeer hom na die volgende vlak.

By God werk dinge dus anders- dankie Vader! Hy speel nie volgens ons vooropgestelde idees en aannames van mense nie. Hy sê vir Samuel, “Moenie kyk hoe hy lyk of hoe groot hy is nie. Ek wil hom nie hê nie. Dis nie wat ‘n mens kan sien wat tel nie. Mense kyk na iemand se buitekant. Ek, die Here, kyk na ‘n mens se hart” (1 Sam. 16:7 DB). Ons hoort darem maar dankbaar te wees dat God ‘n ander manier het van kies, as ons. Vir Hom gaan dit oor wat in ons harte aangaan, nie wat ons aan ons lywe dra nie. Ons is te geneig om mekaar te oordeel volgens dit wat ons kan sien. Ek het net gehoor “’n hawelose man soek die pastoor”, en het klaar besluit wie hy is en wat hy soek. Ek het nie eers na sy storie geluister en hom kans gegee om sy hart te deel met my nie. Ek dink ‘n groot rede hoekom ons mekaar so maklik oordeel, is omdat ons nie tyd maak om mekaar se stories te hoor nie- nie die storie wat ek opmaak van jou, van dit wat ek sien nie. Maar die storie van wie jy werklik is; die storie wat God van binne kan sien.

Toe ek egter met die man gaan gesels toe soek hy nie kos of geld nie, maar net ‘n paar skoene en ‘n kombers teen die winterkoue. Beskaamd moet die pastoor staan, omdat ek te vinnig was om die uiterlike te oordeel, en die hart te mis. Hoe sal ons werksplekke, ons strate, ons gemeenskappe lyk, as ons na elke persoon kyk soos wat God doen- na die hart!


bottom of page