“Julle is die sout van die aarde... Julle is die lig van die wêreld." Matt. 5:13-16
- Elmarie van der Westhuizen
- 15 minutes ago
- 2 min read
Jesus gebruik die metafoor van sout en lig in Matteus 5 vers 13 om ons te help verstaan watter positiewe, veranderende invloed ons, Sy volgelinge, op die wêreld kan hê. Hy sê ons is sout en lig.
Vers 13 “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie.” (AFR83)
In die Bybelse tyd is sout gebruik om kos te preserveer, asook om kos te geur. Sout werk slegs as dit op die vleis of in die kospot is. In die soutpot maak dit nie veel van ‘n verskil nie.
Ons vra vandag maklik: "Wat is fout met die samelewing? Kyk net hoe gaan dit!" John Stott, ‘n bekende Britse teoloog, herlei hierdie vraag terug na ons as gelowiges toe: "Wat het geword van ons as sout en lig?"
“We should not ask, ‘What is wrong with the world?’ for that diagnosis has already been given. Rather we should ask, ‘What has happened to salt and light?’ One can hardly blame unsalted meat for going bad. That's what meat does. You blame the salt for not being there to preserve it.” - John Stott
Die vraag is of ons as Christene nog enige verskil maak daar waar ons leef? Christene, onder die leiding van die Heilige Gees, sal onvermydelik die wêreld ten goede beïnvloed, net soos sout 'n positiewe invloed het op die geur van die kos. Ons moet egter in die wereld wees om ‘n verskil te kan maak.
Praktiese, alledaagse maniere om sout en lig te wees daar waar ek leef is o.a.:
Weier om aan skinderstories deel te neem en hou jou woord, selfs al kos dit jou.
Doen jou daaglikse werk met eerlikheid en 'n positiewe houding, selfs wanneer ander negatief is.
Bring hoop en optimisme in situasies, eerder as om by te dra tot negatiwiteit.
Voeg "geur" by verhoudings deur te kies om vrygewig en bemoedigend te wees en 'n luisterende oor te wees.
Wees ‘n vredemaker en 'n kalmerende invloed in moeilike situasies.
My lewe gaan geen positiewe invloed in die alledaagse omgang met mense hê as ek net gemaklik in die “soutpot” van godsdienstigheid sit nie. In Jesus se hande sal die sout van my lewe impak hê oral waar ek gaan.
“Though small and often unseen, there are countless moments in your day in which you can be salt and light in this world.” - Tripp Prince




Comments