top of page

Oor bekommernisse, skandes en die goed wat my gelukkig maak

  • Liezel Lüneburg
  • May 12
  • 3 min read

Hierdie is my laaste skryfstuk vir die eKerk se “My Lewe”-nuusbrief. Ek het lank gedink oor my afskeidswoorde en besluit om grepe uit my lewe te deel: die goed waaroor ek bekommerd is, wat my gelukkig maak en waaroor ek nie eintlik praat nie. 


Fungi is vlietend – dit verskyn oornag vanuit niks, skiet spore die lug in en verdwyn weer net so vinnig as wat dit uit die grond verrys het. So is die lewe ook. "Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn."


Ek word dikwels deur angs oorweldig. My hart trek pynlik op ‘n knop, my maag draai en my brein raak mistig. Ek het jare gelede 'n klein, eenvoudige labirint met gruisklippers en plante in my tuin uitgelê. Om dié sirkelroete tree vir tree en, bo alles, biddend te stap, bring my verstand tot rus. "Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by water waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag."


Die reuk van gekneusde jong suurlemoen- en lemmetjieblare maak my baie gelukkig.


Ek huil elke maand as ek kruideniersware by die plaaslike hoërskool se voedingskema uitdeel. As ek die deur toetrek, nadat die laaste gesin die paar pakkies kom haal het, kom ek diep, diep onder die indruk van die verskriklike pyn en lyding, waaronder die mensdom gebuk gaan. En ek wonder oor Paulus se woorde oor swaarkry, volharding en dat die hoop nie beskaam nie en mense wat so arm en desperaat is dat hulle hoop verloor het … 


Soms stap God voor my en ek volg in Sy voetspore. Ander kere stap Hy langs my. Dikwels voel ek dat Hy my verlaat het. As ek terugkyk, sien ek dat Hy maar net skuins agter my stap. "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie."  


Ek het my kapasiteit vir nonsens verloor. Kinderstreke is net aanvaarbaar, terwyl jy nog 'n kind is. Partykeer het ek lus en stop 'n fopspeen in iemand se mond en stap weg, sonder om 'n woord te sê. Dit is verkeerd en val in dieselfde kategorie as padwoede en ek kry telkens berou oor my laakbare, skandelike gedagtes. "'n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra."


Kinders leer vriendelikheid, gehoorsaamheid, onafhanklikheid, nederigheid, respek, hardwerkendheid, liefde, geloof, hoop en alle ander heilsame dinge in hulle ouerhuise. So ook ongeskiktheid, ongemanierdheid, rassisme, onverdraagsaamheid, boeliegedrag, luiheid, ongesonde afhanklikheid, mederwaardigheid en alle ander onheilsame dinge.   


Die klein dingetjies in die lewe maak my baie gelukkig: voëlnessies, fungi, 'n tabakrolletjie, skoenlappers, 'n vriendelike persoon agter die kasregister, Jacobsbaai, skerpioene wat neongeel onder 'n ultravioletlig skyn en 'n spookvoël in die parkeerterrein. Ook die gedig “Pied Beauty” deur Gerard Manley Hopkins (seker omdat nare seuns my oor my sproete gespot het, toe ek klein was):


Glory be to God for dappled things –

   For skies of couple-colour as a brinded cow;

      For rose-moles all in stipple upon trout that swim;

Fresh-firecoal chestnut-falls; finches’ wings;

   Landscape plotted and pieced – fold, fallow, and plough;

      And áll trádes, their gear and tackle and trim.


All things counter, original, spare, strange;

   Whatever is fickle, freckled (who knows how?)

      With swift, slow; sweet, sour; adazzle, dim;

He fathers-forth whose beauty is past change:

                                Praise him.


Tot weersiens.      

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page