Vergifnis – die onbeskryflike groot gawe
- Alet Gardner
- 17 hours ago
- 2 min read
Dis Goeie Vrydag en terwyl ek stil word rondom die verhaal van die kruisiging, besef ek opnuut watter onbeskryflike groot prys Jesus betaal het sodat ek vergifnis mag ontvang. Aan die kruis het Hy die pyn, fisies, emosioneel en veral geestelik gely sodat ek vergifnis kan ontvang, waarlik vrygemaak mag wees.
Jesus was van God verlate sodat ek dit nie hoef te wees nie. Nou is ek geborge in die liefde en genade van my Verlosser en van my Hemelvader. Dit motiveer my opnuut om te bid vir dierbares en kennisse, wat nog nie openlik kan erken dat hulle Hom ken en dien nie. Ek kyk nie met veroordeling na hulle nie, maar met die empatie van Christus. Die empatie, waarmee Hy na my gekyk het, waarmee Hy vir my die geskenk van vergifnis gegee het.
Jesus, wat vergewe deurdat Hyself die hoogste offer was, het ook vir Sy volgelinge gesê om "sewentig maal sewe" te vergewe (Matteus 18:21-22). Hier leer Hy vir Petrus (en ook vir my) dat vergifnis 'n lewenshouding moet wees, nie 'n beperkte handeling nie, en om só God se onvoorwaardelike genade teenoor mense te weerspieël.
Is ek bereid om, soos Jesus, van my regte af te sien en vryspraak te bied aan iemand wat my ontsaglik teleurgestel het, my diep seergemaak het?
Bertha* het as volwassene ‘n bitter stryd gehad om haar ouers te vergewe vir kindertydse verwerping en ‘n oupa wat haar seksueel gemolesteer het. Sy het egter gekies om die proses van vergifnis te begin omdat sy iets van God se liefde vir haar begin verstaan het en aan Hom gehoorsaam wou wees. Jesus het immers vir ons geleer om te bid: “And forgive us our debts, as we have forgiven our debtors [letting go of both the wrong and the resentment].” – Matthew 6:12 AMP
Bertha het haar nuutgevonde Hemelvader vertrou om haar te help om hierdie mense te vergewe, al het hulle nie om vergifnis gevra nie en sommige reeds oorlede was. Sy het ook ‘n nuwe vryheid in haar verhouding met God ervaar, soos wat sy toenemend vry geraak het van die wrok teen hierdie mense.
“When we look at all that God has forgiven us, it makes sense to choose to forgive others. This also frees us from the torture of festering resentments, anger and jealousy!”
Forgiven to forgive - Mervyn Merlock.
*Skuilnaam




Comments