top of page

Weet hoe om reg naby ander te leef

  • Stephan Joubert
  • May 30
  • 1 min read

Teks: Lukas 10:34


“Just because I told you my story does not invite you to be a part of it,” sê die karakter van Jack Nicholson in die film The Bucket List. Hierdie woorde het my al baie gehelp in my eie lewe. Dit het my minstens geleer dat ek sensitief moet wees vir ander mense. Ek het geen reg om ongenooid in mense se lewens in te storm en myself op te dring aan hulle nie. Die evangelie kies ’n beter roete. Ek leer naamlik by Jesus dat die regte nabyheid aan ander mense konkrete hulp insluit. Dit verander my nie in ’n busy body nie, maar in iemand, wat op die regte manier help.


Ek kan  nie anderpad kyk as mense swaarkry of ly nie. Ek leef immers by wyse van spreke op daardie einste pad, waarop die Samaritaan, van wie Jesus in Lukas 10 vertel, homself bevind. Hierdie gelykenis onderstreep dat ek nie kan beplan wanneer en hoe ek ‘n naaste vir ander wil wees nie. Ek het nie die “luukse” om vooraf te kyk of dit inpas by my besige programme nie. Ek kan nie my naaste-wees iewers op ‘n gepaste tyd in my dagboek skeduleer nie. Dit gebeur onverwags en onbepland. Ek moet elke dag met die liefde van die Here leef. Dan sal ek weet dat ek nooit aan die anderkant van die pad kan verbystap nie. Die Here se liefde sal my die straat laat oorsteek na daardie plekke, waar Hy Hom oor mense in nood ontferm.


Gebed: Here, U maak my sensitief vir ander mense. U laat my op die regte maniere naby aan ander leef.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page