top of page

Wat as jy die dag jou nuttigheidswaarde verloor?

  • Stephan Joubert
  • 9 hours ago
  • 1 min read

Teks: Matteus 10:32


I’ve outlived my usefulness.” So het Bill Knight sy eie lewe jare gelede opgesom in ’n onderhoud met ’n Amerikaanse TV-stasie. Hy was al baie oud en eensaam. Sy familie het lankal van hom vergeet. Toe besluit hy eendag om Amerikaanse soldate, wat uit Irak teruggekeer het, by ‘n plaaslike lughawe met ‘n handdruk te gaan verwelkom. Net dit. Hierdie eenvoudige stukkie omgee het kort voor lank wyd en syd regdeur die VSA bekend geraak. Baie ander bejaardes het sy voorbeeld begin navolg. Bill Knight se opregte handdruk, waarmee hy terugkerende soldate verwelkom het, het vir baie mense sinoniem geword met omgee. Later het selfs George Bush, die eertydse Amerikaanse president hom ontmoet. Daar is ook ’n dokumentêre film oor hom en ander ouer persone, wat soldate gaan verwelkom het, gemaak. 


Wanneer dit lyk of jou persoonlike nuttigheidswaarde verstryk het, is daar altyd nog ‘n kans om die teendeel te bewys. Jesus het juis gesê dat nie eens die kleinste daad van deernis, soos om ‘n beker koue water aan een van Sy profete te gee, ongesiens by God verbygaan nie. Nooit is enigeen van ons in God se oë te oud, te arm, te eensaam, of te nutteloos om vir een ander persoon iets goed te doen nie. Of om iets te beteken vir iemand, wat ons nodig het nie. Met een klein daad van deernis op ‘n keer kan ons ’n verskil in die Here se Naam maak. Ons kan ons eiewaarde elke dag reg uitleef en reg verhoog.


Gebed: Here, ek meld vandag aan om nuttig in U diens te wees. Ek gaan vandag iemand reg raakleef.

Comentários


Não é mais possível comentar esta publicação. Contate o proprietário do site para mais informações.
bottom of page