top of page

Ons, die singende gemeenskap

  • Roedolf Botha
  • 4 minutes ago
  • 2 min read

Toe ons gemeente onlangs in Italië was, het ons as groep iets baie simbolies gedoen. Ons was die een dag saam in die katakombes in Rome. Die katakombes was grafkelders waarin die vroeë Christene bymekaargekom het om te aanbid. Ons het ‘n goeie gids gehad, wat self ook gelowig was. Hy het met passie verduidelik en vertel hoe die vroegste gelowiges dapper vir die Here geleef het. In die een donker kelder vra die gids toe vir ons of een van ons wil bid. Iemand in die groep sê toe: “Waarom sing ons nie iets nie?”


Ons sing toe. Ons sing die bekende Agnus Dei. Ek was hoendervleis. Dit was nie oor die liedjie self nie, maar ons handeling het my aan Jesus se Goeie Nuus self laat dink. Hier, diep onder die grond, in die aangesig van die dood, sing ons van die Lewe van Jesus! Dis ‘n metafoor van die Jesus-lewe. Die volgelinge van Jesus was nog altyd die mense wat gesing het in die teenwoordigheid van dood, vernietiging en verwoesting.


Ek dink aan die vrouemartelaar, Perpetua, in 203 nC. Sy was omtrent 22 jaar oud toe sy gearresteer was. Sy is as gevolg van haar getuienis oor Jesus gevange geneem. Daar word vertel dat toe sy in die arena getree het om die moorddadige bul die hoof te bied, sy ‘n lofpsalm begin sing het. Dit was so aansteeklik dat die ander saam met haar in die arena begin sing het. Nadat die bul hulle verrinneweer het en haar medegelowiges doodgemaak het, het sy opgesukkel, haar geskeurde klere reggetrek en net gewag vir die soldaat om haar die finale doodsteek met sy swaard te gee. Toe hy uit respek  huiwer, neem sy die swaard se punt, plaas dit teen haar keel en knik vir hom dat sy oukei is om te sterf.


Sulke dapperheid inspireer my geweldig in my eie tye van moeilikheid en swaarkry. Dit laat my voel ek is nie alleen nie. Dit herinner my ook dat ek nie so swaar kry soos wat ek dink nie. Dit herinner my van watter geweldige wonderlike tradisie die Jesus-beweging deel is. Maar die meeste van alles herinner hierdie verhale my aan Jesus se dapper dood en die eerste kerk se dapper lewe. Die singende gemeenskap.


Dis hoe ek wil wees. Soos Jesus, soos Paulus, soos Petrus en soos Perpetua wil ek  te alle tye graag sing. Ja, ek bedoel nie dat ek nie ook op sekere tye sal rou nie. Ons almal rou, maar mag die mense met wie ek saamleef my onthou as iemand wat tot die einde toe die lied van die Here op my lippe gehad het. Mag ons as Jesus-gemeenskap Psalm 137 omdraai, waar die mense van God in die ballingskap weier te sing in die vreemde Babilonië te sing. Nee. Mag ons sing in die vreemde, soos Jesus op pad kruis toe. 

Mag ons altyd sê: Ek sál sing, selfs in hierdie “vreemde” land, selfs in die swaar tye en die onsekerheid. 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page