top of page

Waagmoedige gebed

  • Marietjie Joubert
  • 1 hour ago
  • 2 min read

Handelinge 12: 1-18


‘n Tyd gelede vra ‘n vriendin vir my of ek sal bid vir ‘n persoon, wat ek glad nie ken nie. Die persoon was ernstig siek na ‘n geweldige hartaanval. Die dokters het nie gedink hy sal dit oorleef nie. Almal was bekommerd en ontroerd, want die gesin se kinders was klein en Mamma was ook siek met kanker. Ek was so aangeraak deur hierdie gesin dat ek ook saam gebid het vir die herstel van hulle pappa. Metter-tyd was daar beterskap en later herstel. Maande daarna word ek onverwags by ‘n byeenkoms gekonfronteer, tydens die voorstelling van ‘n vreemde persoon. Groot was my verbasing toe ek hoor dit is die hart-pasiënt vir wie ek getrou gebid het. Ek het spontaan trane in my oë gekry! Die dankbaarheid en verbasing dat ons almal se gebede verhoor is, het my oorweldig. Ek kon nie glo wat ek sien nie. 


Na hierdie insident het ek baie gedink ons bid, maar dat ons nie regtig glo dat die Here ons gebede sal verhoor nie. Toe hoor ek ‘n preek wat vir my taal gee vir dit wat in my gewoed het. Ons moet weer WAAGMOEDIG bid.


In Handelinge 12 lees ons die verhaal van Petrus wat in die tronk is. Die aand voor sy verhoor slaap hy tussen twee wagte. ‘n Engel verskyn aan hom en vra dat Petrus sy bo-kleed aantrek en sy gordel vasmaak. Petrus dink hy sien ‘n gesig en stap uit die tronk saam met die engel. Buite die tronk het die engel hom verlaat. Petrus stap toe na die huis van Maria, Johannes se ma, waar die gelowiges besig was om te bid. Die gelowiges kon nie glo Petrus was voor die deur nie en het gedink dit is sy gees. Hulle was egter baie verbaas toe hulle sien dit is werklik Petrus in lewende lywe.


Hierdie gelowiges wat gebid het vir Petrus, het nie in hulle eie gebede geglo nie. Hulle verbasing is hulle getuienis. Ons moet weer waagmoedig bid. Ons moet weer gereed wees dat God ons gebede sal verhoor. Ons gebede is soms so voorspelbaar en vervelig. Ons bid dieselfde gebede oor en oor.  Dink maar aan ons gebede voor ete! Dit is half outomaties en altyd dieselfde. Bid ‘n opregte gebed vir die wegneemkos of pizza wat jy bestel het, of die lekker smeltkaasbroodjie wat jy sopas gemaak het. Verras jou gesin met kosgebede wat hulle laat luister sodat hulle nie vra: Kan ons maar eet, of het ons al gebid?


Dalk moet ek dit anders vra: Is jy gereed dat God jou gebede verhoor, of is jou gebede outomaties? Kom weer honger na die Here toe in gebed. Glo en vertrou dat jou gebed voor Sy voete in die hemelse gebedebakke val. Glo met jou hele hart dat Hy na jou luister. Beleef die verwondering van jou gebede, wat verhoor word, en loof God vir Sy goedheid teenoor Sy kinders. 


Bid weer waagmoedig en laat God jou verras sodat jy met trane in jou oë en hart kan jubel oor gebedsverhoring!

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page