top of page

Voetewas – ‘n teken van ware liefde

  • Alet Gardner
  • 3 days ago
  • 2 min read

Op ‘n helder sonskyndag in die Bosveld het ‘n egpaar heeltemal onverwags voor my en Brink kom kniel, elk met ‘n skottel water en ‘n handdoek. Hierdie liefdevolle aksie was onbeskryflik “humbling”, veral omdat ek geweet dat sy ‘n baie slegte knie-infeksie gehad het en waarskynlik heelwat pyn moes verduur terwyl sy gekniel het. Hierdie was hulle manier om dankie sê vir hoe die Here ons gebruik het in die herstel van hulle verbrokkelende huwelik. Dit was asof my Here self voor my kom kniel het om my voete te was. Ek was opnuut bewus van Sy liefde, ‘n liefde wat Sy alles gekos het om te kon gee, sodat ek (en Brink) kan lewe, oorvloedig kan lewe. 

 

Voetewas impliseer twee deelnemers: Die een wat was en die een wat gewas word, die een wat gee en die een wat ontvang. Hierin is Jesus as Gewer my voorbeeld en inspirasie. Hy het geweet dat Sy dissipels se voete waarskynlik nie te skoon was nie en dat Judas Hom sou verraai. Hy het nogtans opgestaan, Sy oorkleed (Sy waardigheid) uitgetrek en die nederige voorskoot van ‘n dienskneg om Hom gebind. Daarna het Hy Judas se voete saam met dié van Sy ander dissipels gewas. Hiermee het Hy Sy groot liefde bewys en ook Sy dissipels aangemoedig om hierdie selfde gesindheid van liefdevolle diensbaarheid aan die dag te lê, sonder om erkenning daarvoor te verwag,  

 

In die Westerse kultuur van vandag is dit nie ‘n algemene ding om iemand anders se voete te was nie. Maar, enige omgeedaad, wat ek met nederigheid en respek aan ‘n ander bewys, sou ook as die ekwivalent daarvan gesien kon word. 

 

As ek bely dat ek Jesus as my Verlosser aangeneem het, bely dat Jesus nie net my voete nie, maar my diepste binneste gewas het, sal ek uit dankbaarheid nie net geïnspireer wees nie, maar, soos Paulus, eintlik onder ‘n verpligting wees om vir ander te vertel en iets te wys van die grootheid van Christus se liefde vir ons – “hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is”. (Efesiërs 3:18 NLV)

 

Dit is soms moeilik, veral wanneer ek aan die die gebrokenheid en selfs opstandigheid in ander se lewe blootgestel word. Dis dan maklik om soos Moses (Eksodus 3:11, 4:10) en Gideon (Rigters 6:15), toe God hulle geroep het, verskonings te probeer maak. Ek moet van tyd tot tyd kies om eerder in gehoorsaamheid my “voorskoot” aan te sit, die “skottel” / “ploeg” / my “kierie” te vat en die opdrag uit te voer wat Jesus my gegee het: “… mekaar (medegelowiges) se voete was” en “Maak dissipels …” deur my Jesus-voorbeeld teenoor dié wat Hom nog nie ken nie. 


Comments


bottom of page