top of page

Wat Lord of the Rings ons van leierskap leer

  • Roedolf Botha
  • Jun 10
  • 3 min read

Daar is vandag baie misverstande oor leierskap. Een van hulle is dat leiers geen werklike vaardighede hoef te hê nie. Dis uiteraard nonsens, want leiers moet beskik oor die vaardigheid om te kan lei. Dis tog wat hulle leiers maak. ‘n Ander misverstand is dat leiers altyd al die antwoorde moet hê. Dalk nie al die antwoorde nie, maar ten minste die goeie planne, idees en strategieë. Dis ewe onwaar. Leiers is nie gode nie. Soms weet hulle net so min soos die res. Wat maak hulle dan leiers?


Ons sien in Lord of the Rings ‘n goeie voorbeeld van diensbare en geestelike leierskap. Daar is ‘n vergadering in Rivendel, die mooi woonplek van die elwe. Die vergadering is belangrik, want die wêreld is in gevaar. Die ring moet vernietig word sodat euwel verslaan kan word. Dis egter nie maklik om die ring te vernietig nie. Dit moet geneem word na Mount Doom, die hartland van die vyand, en daar in die vulkaan gegooi word. Dis uiters gevaarlik en moeilik en die reis sal vol gevare wees. Wie sal gaan? Daar is ‘n vreeslike geveg tussen al die inwoners van Middle Earth. Wie kan met die ring vertrou word? Die vlak van wantroue is hoog. Dan openbaar Frodo Baggins, die kleinste en mees kwesbare lid van die vergadering, die leierskap wat die ander nie het nie. Hy openbaar drie fundamentele elemente van leierskap.


  1. Dapperheid:


In die hitte van die vergadering sê Frodo: “I’ll take the ring. But I don’t know the way.” Hy het geen idee hoe om by Mount Doom uit te kom nie. Hy het geen strategie nie, maar hy is bereid om die dapper besluit te neem en die pad te stap. Sy dapperheid kom uit op twee maniere: Eerstens is hy bereid om die gevaarlike pad aan te durf. Die meeste leiers wat ek ken, wil die heerlikheid en aandag geniet wat leierskap bring, maar hulle wil nie die moeilike besluite neem met al die gevolge daarvan nie. Daarom stel hulle belangrike besluite uit en wag vir meer inligting of dat die probleem maar self weggaan. Ons weet almal hoe noodlottig dit kan wees. Tweedens is hy bereid om kwesbaar te wees, iets wat leiers baie selde wil openbaar. Hy weet nie en hy is eerlik daaroor. Hy ken nie die pad nie. Kwesbaarheid sou eintlik ‘n vierde punt in hierdie stuk kon wees, want dit is belangrik genoeg. Die dapperheid is dus nie slegs nodig vir uiterlike gevaar of ongemak nie, maar ook om swakhede te erken en jouself as leier bloot te stel. Navorsing en ervaring leer vir ons dat kwesbaarheid by leiers juis die vertroue in ‘n span aansienlik verhoog.


  1. Morele onskuld:


Toe Frodo aankondig, aanvaar al die ander lede van die vergadering sy aanbod. Waarom? Waarom wantrou hulle hom dan nie soos wat hulle mekaar ‘n paar sekondes gelede wantrou het nie? Want hulle het Frodo se morele onskuld vertrou. Hulle weet dat hy nie agter mag aan is nie. Mag en aansien beteken vir hom niks nie. Hobbits, meer spesifiek, het nog hulle hele lewens in relatiewe morele onskuld geleef. Frodo is te eenvoudig in sy eie innerlike wêreld om met selfsugtige agendas rond te loop. Hy kan vertrou word. Veels te dikwels het sommige leiers die regte vaardighede en planne om die groep by die einddoel uit te bring, maar hulle is nie die regte mense vir die werk nie omdat hulle nie vertrou kan word met mag nie. Hulle vertrou hom egter ook juis omdat hy kwesbaar is. Omdat hy bereid is om te sê “ek weet nie.”


  1. Vermoë om mense se verenig in ‘n span:


Al vaardigheid wat ‘n leier nodig het, is om ‘n span rondom die doel te verenig. Dis waarom ‘n leier nie altyd die antwoorde hoef te hê nie. Daarvoor sal die span sorg. Die vaardigheid om spanne te kan bou is uiters noodsaaklik. Dis gesonde spanne wat goeie strategieë uitwerk. Die leier hoef dit nie as enkeling te doen nie. Dit impliseer gevolglik dat verhoudingsvaardighede en geduld met jou eie mense uiters belangrik is. Maar dit impliseer ook die vertroue in hulle vaardighede. ‘n Leier moet onomwonde weet dat hy sy mense met hulle insigte en vermoëns nodig het.


Hierdie drie eienskappe is natuurlik die dinge wat Jesus ook openbaar in sy eie karakter. Dat Hy dapper was op die gevaarlike pad na die kruis kan niemand ontken nie. Dat Hy moreel onskuldig is, is deel van ons kerkbeleidenisse deur die eeue. En Sy span het uiteindelik die wêreld verander.


Dis g’n wonder dat Jesus deur baie beskou word as die meeste effektiewe leier wat die geskiedenis nog opgelewer het.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page