top of page

Donker geheime het nie verblyfreg nie

  • Stephan Joubert
  • Jun 12
  • 2 min read

Teks: Psalm 139:23


Party mense leef jare lank met donker geheime. So lank as wat hierdie donkertes nie aangespreek word nie, is eindelose negatiewe emosies hulle metgeselle. Skuldgevoelens, woede, twyfel en ’n klompie ander donker emosies word dan daaglikse realiteite. Dit gebeur omdat almal wat geheime “tweede lewens” leef, groot slotte op hulle gewete moet plaas. Hulle moet die Heilige Gees se stem in hulle binneste onderdruk. Dit is hoekom donker emosies hulle metgeselle is, want hulle moet gedurig die waarheid uit hulle harte en gedagtes verban. So ’n leefwyse van onegtheid vreet hulle van binne af op. Hulle gewetens herinner hulle gedurig daaraan dat hulle ’n leuen leef en dat hulle voorgee om iemand te wees wat hulle nie regtig is nie. Nogtans kies party mense om met so ’n leuenagtige lewe deur te druk, omdat dit net te seer is om die waarheid in die oë te kyk. Of omdat hulle bang is hulle openbare beeld kom in die gedrang.

Niemand wat met integriteit voor God leef, kan ’n geheime lewe in stand hou nie. God se Gees laat dit eenvoudig nie toe nie. Hy roep almal van ons op om in die lig van die Here te leef. Hy werk ook in ons om dit te laat gebeur. Daarom moet ons gedurig enige donkerte in ons lewe na die lig toe bring, na God se lig toe. Sy vergifnis en Sy teenwoordigheid wis alle donkerte eensklaps uit. Moenie aan donker geheime gratis verblyfreg in jou lewe gee nie. Doen die regte ding: gee dit vandag nog hemelse Lig.


Gebed: Here, ondersoek my en toets my hart. As daar enige donkerte in my is, ontbloot dit en neem dit weg.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page