top of page

Verwondering verskuif al die geestelike meubels in jou lewe

  • Stephan Joubert
  • 5 hours ago
  • 1 min read

Charles Scott Sherrington (1857-1952) het in 1932 die Nobelprys gewen vir sy navorsing oor die funksies van neurons in die brein. In een van sy lesings, wat later geboekstaaf is, skryf hy die volgende oor verwondering: “We dismiss wonder commonly with childhood. Much later, when life’s pace has slackened, wonder may return. The mind then may find so much inviting wonder the whole world becomes wonderful.”


Verwondering gebeur wanneer jou asem weggeslaan word. In Engels praat hulle van awestruck. Sulke verwondering was aan die orde van die dag terwyl mense Jesus se dade en leringe eerstehands ervaar het. Matteus vertel byvoorbeeld vir ons van die skares se verwondering nadat Jesus Sy bekende bergrede gelewer het (7:28-29). Dieselfde gebeur ook as Hy ’n verlamde genees (9:8), ’n bose mag verdryf (9:33), verskillende siektes genees (15:31), en godsdienstige leiers van die dag op hul plek sit (22:31). 


In een oomblik het Jesus mense se voete onder hulle uitgeslaan. Hulle oë het oopgegaan. Hulle lewens het vir altyd verander. Hulle was meteens nuwe mense. Die woorde van 2 Korintiërs 5:17 het waar geword: “Iemand wat in Christus glo is ‘n splinternuwe skepping! Daardie ou lewe is oor en verby. Let op! Alles het nuut geword. Nuwe lewe het aangebreek.” (NNT)


Geloof wat verskuif vanaf blote belydenisse na diep belewenisse, is geloof wat verskuif vanaf verwonding na verwondering. Sulke verwondering oor Christus verskuif meteens al die geestelike meubels in ons lewe. Dit verskuif ons ganse lewe vanaf dood na lewe. Dit verskuif ons vanaf verveeld na vervuld. Dit maak dat ons lewe, in Sherrington se taal, wonderful raak. Of moet ek eerder sê: wonder-full!

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page