Soms is sang beter as praat
- Roedolf Botha
- Jun 3
- 3 min read
Hoe verduidelik ‘n mens die goedheid van God vir die wêreld? Hoe praat ‘n mens oor God, wat so liefdevol en asemrowend heilig is dat ‘n mens dit byna nie in woorde kan omskryf nie? Baie mense dink dat hulle in debatte moet tree, harder moet praat of nog ‘n keer logies verduidelik. Hoekom dink ons altyd dat nog ‘n verduideliking sal werk, wanneer ons al soveel keer probeer het? Daar is ‘n sterk stuk sosiale kommentaar hierop in die wetenskapsfiksiefliek, Contact. Die storie handel oor ‘n wetenskaplike, dr. Arroway, wat hardkoppig glo in die almag van die wetenskap. Sy glo dat, indien jy iets nie wetenskaplik kan bewys nie, jy jouself net mislei. Die wetenskap was die taal van haar lewe. Na aan die einde van die fliek word sy egter in die buitenste ruimte - op ‘n sending vir wetenskaplike navorsing geneem. Sy het nog altyd geglo dat dit reg is om ‘n wetenskaplike op so ‘n reis te stuur, aangesien wetenskaplikes tog die mense is wat die realiteit moet waarneem en in die taal van die wetenskap beskryf. Sy word egter toe op hierdie reis blootgestel aan sulke asemrowende tonele van sterrestelsels en sterformasies dat sy dit nie met woorde kan beskryf nie. Op ‘n stadium, tydens haar reis deur die heelal, staar sy na ‘n reusagtige, maar beeldskone toneel van ‘n ontvouende sterrekosmos voor haar oë. Terwyl sy oopmond staar en staar, kry sy slegs die volgende woorde uit:
“So beautiful ... so beautiful. They should have sent a poet. I had no idea ...”
Sy het, tot voor hierdie punt in haar lewe, die buitenste ruimte deur teleskope, wiskundige formules en akademiese artikels bestudeer. Maar toe sy die kosmos met al sy skoonheid van naderby ervaar, toe kon geen wetenskaplike taal die werk doen nie. Sy wou ‘n digter kry om haar te help. Sy wou nie meer praat nie, sy wou sing!
“They should have sent a poet ... I had no idea ...”
Daar is dinge in die lewe, wat net te mooi is om logies te bespreek of gewoonweg te verduidelik. Paulus het dit geweet. Jesus se liefdevolle skoonheid was vir Hom so ‘n geval. Wie Jesus is en wat Hy vir ons kom doen het, was vir hom so asemrowend mooi dat hy daaroor moes sing! Wanneer hy besef hoe groot Christus se persoon en karakter is, verduidelik hy dit nie soos vir studente in ‘n klaskamer nie. Hy sing! In Kolossense 1:15-20 is hierdie lied opgeskryf. Wanneer hy dink aan hoe Jesus Homself verneder en vir ons oorgegee het, dan ontwikkel hy nie dadelik ‘n dogma daaroor nie. In Filippense 2: 6-11 sing hy eerder ‘n lied daaroor. Wanneer hy aan die skoonheid van God se uitverkiesende liefde dink, formuleer hy nie ‘n leerstelling nie. Hy sing dit uit in Efesiërs 1:3-15. Daar’s niks fout met dogmatiese stellings nie. Ons het mos goeie lering nodig. Maar indien God vir ons so asemrowend mooi is, waarom praat ons so baie en sing ons so min? Daar is so baie praat en so min poësie op Christene se lippe. Ons wil die wêreld reg práát. Daar is baie opinies, maar min skoonheid. Baie geraas, maar min mooi. Liefde is God se taal en liefde moet besing word. ‘n Mens kan nie “Ek het jou lief” in Algebra, Fisika of Biologie sê nie. Daarvoor het jy ‘n gedig nodig, ‘n lied.
Mense wat net oor God in letterlike, feitlike taal kan praat, mag dalk teologies korrek wees, maar hulle het nog nie die skoonheid van Sy karakter en liefde aanskou nie.
Ek vermoed baie Facebook-gebruikers, bloggers en Tik-Tokkers gaan eendag die Here waarlik aanskou en sê:
“I should have been a poet... I had no idea...”
Comments