top of page

Oorgenoeg en nog meer in dieselfde asem

  • Stephan Joubert
  • 6 hours ago
  • 2 min read

Teks: Psalm 63:2


Psalm 63 vertel van die psalmskrywer se diep verlange na God. Soos ’n wildsbok in die woestyn wat na water smag, so verlang hy na God. Sy diepste begeerte is na ’n groter belewenis en na ’n dieper bewussyn van die Here se teenwoordigheid. Hy wil meer van God ervaar. Hy wil Hom van naderby ken. Daarom honger en dors hy so na die Here. Daarom kan hy nooit genoeg van die Here se goedheid kry nie.


Mense wat saam met God wandel ken ook hierdie dieper dors waarvan die skrywer van Psalm 63 praat. Nooit gaan dit weg nie. Aan die een kant weet hulle dat die Here hulle eie honger en dors vir altyd aangespreek het. Gelowiges weet en bely immers dat Jesus die Brood is wat ewige lewe gee. Hy is ook die Water van die lewe. Almal wat Sy lewende water drink, word nooi weer dors nie en almal wat sy lewende brood eet, word nooit weer honger nie. Nogtans, omdat ons almal steeds met ons voete hier op Moeder Aarde leef, is daar altyd in ons harte ’n diep soeke na nog meer van God se teenwoordigheid in ons, na nog meer van Sy nabyheid. Oorgenoeg en nog meer - dit is altyd die belewenis van God se volk hier op aarde. Te veel en te min - so word die pad van geloof uitgekap, beleef en geleef! Saam met Paulus jaag ons Christus se volmaaktheid na asof ons dit kan gryp. Ons honger gedurig na nog meer van die Here se heiligheid en liefde. 


Gebed: Heer, ek smag na U. Ek dors na U. U is my lewende water en my ewige brood. Ek honger na nog meer van U nabyheid.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page