top of page

Ons roeping is belangriker as ons indiwidualiteit

  • Stephan Joubert
  • 16 hours ago
  • 1 min read

Hans Kramers (1894-1952) was ’n gerekende Nederlandse fisikus. Een aand tydens ’n publieke musiekkonsert, het hy opgestaan en haastig uitgestap. Na die tyd het hy gesê hy was in sy kop besig om die energievlakke van ’n suurstof atoom te bereken en die musiek het hiermee ingemeng. Sy toewyding aan sy navorsing was legendaries. Een keer het Kramers selfs opgemerk: ”A man of science must sacrifice his individuality for his discipline.” Lees dit weer asseblief. Kramers sê daar is belangriker dinge in die lewe as ons eie indiwidualiteit. In geloofstaal gesê, ons roeping in die Here is belangriker as ons eie voorkeure, afkeure, smake en belangstellings. 


Kramers se woorde herinner my aan Ou Testamentiese profete, soos Elia en Elisa. Hulle roeping het hulle ganse lewe oorgeneem. Hulle het nie iets soos ’n privaat lewe en ’n publieke lewe geken nie. Hulle het net een lewe gehad, een lewe voor God. Ek dink dis een van die redes hoekom hulle gereeld as manne van God aangespreek is. Mense het altyd baie goed geweet waarvoor hulle staan en vir Wie hulle leef. Die apostel Paulus se roeping het ook sy ganse lewe oorgeneem. Hy skryf juis in Filippense 1:21: “Vir my is die lewe Christus! Hy is die somtotaal van my hele bestaan.” 


Mag ons ook ons eie roeping in die lewe ken en verstaan. Nog meer, mag dit ons lewensdoel wees om voltyds vir God te leef. Mag ons selfs ons eie gerief en enige selfsugtige vorms van indiwidualiteit hiervoor op die altaar plaas. Dan sal ons inderdaad ook as mense van God uitstaan.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page