Ons is voorprente van wat kom
- Roedolf Botha
- 3 days ago
- 3 min read
Ek is ‘n flieksnob, maar nie weens die rede wat julle dalk dink nie. Dis nie omdat ek slegs al die hoogdrawende of somber kunsflieks kyk nie. Ek hou ook van die meeste van die populêre flieks wat op 𝘕𝘦𝘵𝘧𝘭𝘪𝘹 of 𝘗𝘳𝘪𝘮𝘦 𝘝𝘪𝘥𝘦𝘰 vertoon word of in teaters draai. Ek is ‘n flieksnob, nie omdat ek slegs van sekere akteurs of regisseurs hou nie. Ek is ‘n flieksnob omdat ek ‘n groot probleem het met mense wat laat kom. Nou praat ek natuurlik van wanneer ‘n mens na ‘n teater toe gegaan het om te gaan fliek. Ek kon nooit verstaan nie en was dikwels geïrriteerd wanneer ‘n groep laatkommers, wanneer die hoofprent alreeds wys, voor almal ingesukkel kom, nie mooi in die donker kan sien nie, oor ons en hulle eie voete val en in die proses die helfte van hulle popcorn op een van ons uitmors. Kan mense nie hulle tydsbeplanning beter doen nie! Trouens, ek het nooit verstaan hoekom iemand sou wou laat wees vir ‘n fliek nie. Van kleins af het ek aangedring daarop dat ons betyds moet wees, selfs voor die advertensies begin. Maar in elk geval, dis mý 𝘪𝘴𝘴𝘶𝘦𝘴 en ek werk hard aan my vergifnis en geduld. Ek wil egter wel sê dat daar nog altyd ‘n goeie rede was vir my snobisme.
Ek is mal oor die voorprente.
Ek was nog altyd so opgewonde om te kan sien wat nog gaan kon. Om lekker te kan terugsit, smul aan jou 𝘱𝘰𝘱𝘤𝘰𝘳𝘯 en 𝘊𝘰𝘬𝘦, terwyl jy uittreksels sien van wat vorentoe in die rolprentwêreld gaan gebeur. Man, dís wat die ervaring lekker maak! Selfs nou nog sien ek en my gesin uit na baie flieks wat nog in die toekoms vir ons wag. In die ou dae het die voorprente met ‘n visuele foto begin wat gesê het: “𝘊𝘰𝘮𝘪𝘯𝘨 𝘈𝘵𝘵𝘳𝘢𝘤𝘵𝘪𝘰𝘯𝘴!” Dit het my altyd kinderlik opgewonde gemaak, veral wanneer ek nie altyd die hoofprent gekies het nie en nie noodwendig ‘n hengse verwagting van die fliek gehad het nie. Dan was die 𝘊𝘰𝘮𝘪𝘯𝘨 𝘈𝘵𝘵𝘳𝘢𝘤𝘵𝘪𝘰𝘯𝘴 vir my die hoogtepunt van die hele fliekervaring.
Hoop is so ‘n belangrike deel van die Bybelse boodskap en van Jesus-navolging. Dis nodig dat God ons verseker van ‘n goeie, heerlike toekoms saam met Hom! Daarom gebruik Hy Sy mense, Sy volgelinge, Sy kerk om aan die wêreld te toon wat aan die kom is. Ons moet Sy lig utstraal, Sy boodskap uitdra. Teoloë praat van ‘n “gerealiseerde eskatologie”. Dis ‘n groot woord wat maar net beteken dat God in Jesus die hemelse toekoms (gedeeltelik) ingetrek het na die hede toe. Jesus se lewe dui onder andere ook daarop hoe ons toekoms saam met God lyk. Ons moet dus so leef dat mense die hemelse toekoms in ons lewens kan raaksien.
Ons leef byvoorbeeld met liefde vir alle mense, omdat God daardeur wil aantoon dat ons op pad is na ‘n nuwe wêreld, waar liefde en genade onverdund onder Jesus se Heerskappy en in ons verbondenheid met Hom beleef sal word. Ons draai die ander wang, omdat God wil aantoon dat ons op pad is na ‘n wêreld waar vergifnis en geduld met mekaar ons lewens gaan regeer. Ons tree geduldig en liefdevol op teenoor álle mense van die land, ook almal van kleur, omdat God wil aantoon dat ons op pad is na ‘n wêreld waar alle nasies gelyk voor God sal wees en in totale versoening sal leef. Ons verdra ons swaarkry met vreugde, omdat God hierdeur wil aantoon dat Sy blydskap eg en diep in ‘n lewe saam met Hom gewortel is en dat dit ons eindbestemming saam met Hom is.
Ons is God se voorprente. Ons lewens toon aan wat die 𝘊𝘰𝘮𝘪𝘯𝘨 𝘈𝘵𝘵𝘳𝘢𝘤𝘵𝘪𝘰𝘯𝘴 onder die sambreel van Jesus se genade is. Die jammerte is wanneer Jesus-gelowiges sulke kru, skeefgetrekte en onvolwasse prentjies vir die wêreld skep om te aanskou! Soveel nie-gelowiges het al vir my dinge gesê soos: “𝘌𝘬 𝘬𝘢𝘯 𝘮𝘺𝘴𝘦𝘭𝘧 𝘣𝘦𝘴𝘭𝘪𝘴 𝘯𝘪𝘦 𝘪𝘯𝘥𝘪𝘯𝘬 𝘥𝘢𝘵 𝘦𝘬 𝘷𝘪𝘳 ‘𝘯 𝘦𝘸𝘪𝘨𝘩𝘦𝘪𝘥 𝘴𝘢𝘢𝘮 𝘮𝘦𝘵 𝘴𝘰-𝘦𝘯-𝘴𝘰 𝘴𝘢𝘭 𝘮𝘰𝘦𝘵 𝘥𝘦𝘶𝘳𝘣𝘳𝘪𝘯𝘨 𝘯𝘪𝘦.” Ek verstaan hulle punt. Trouens, ek moet bely dat ek ook baie keer voel sommige van my nie-gelowige vriende gaan beter geselskap wees as baie van my medegelowiges!
Die vraag is egter watter voorprent jóú lewe wys. Is jou lewe ‘n akkurate en aantreklike voorprent van God se toekoms wat Hy belowe vir almal wat Hom aangeneem het?




Comments