top of page

Ons is nie gemaak vir rak-staan nie

  • Stephan Joubert
  • 11 minutes ago
  • 2 min read

Teks: Handelinge 21:13


As party mense bid: “Bewaar my, Here,” dan bedoel hulle eintlik: “Preserveer my.” Of: “Moenie my gebruik nie.” Om kos te preserveer is om dit vars te hou tot by die vervaldatum op die verpakking. Sommiges wil hê die Here moet dieselfde met hulle doen. Hy moet hulle eintlik ongebruik deur die lewe laat gaan. Hulle moet heel en ongeskonde by Hom aankom wanneer hulle aardse rakleeftyd verstryk. 

 

Paulus was genadiglik nie in die geestelike preserveringsbedryf nie. Toe 'n profeet met die naam Agabus in Handelinge 21 vir hom kom sê dat hy in Jerusalem gevang gaan word, het Paulus se helpers gedink die Here sê hy moenie soontoe gaan nie. Paulus was ontsteld hieroor. Hy het geantwoord dat hulle hom nie met hulle trane moet sagmaak nie. Hy was nie slegs bereid om gevang  te word ter wille van die Evangelie wat hy met sy hele lewe verkondig nie, maar om ook hiervoor te sterf. Paulus het gekies dat die Here hom opgebruik. Dit het nooit gegaan oor sy preservering of selfbehoud nie. Hy wou nie sy lewe deurbring as iemand wat heeltyd dreig hy gaan nog eendag iets vir die Here doen nie. Hy het dit elke dag gedoen. Hy wou nie hoor hy het potensiaal in die Here se diens nie. Elke aand teen slaaptyd het hy sy potensiaal tot eer van die Here gebruik. Daarom het hy nie geskrik toe hy hoor moeilikheid wag op hom nie. Kom ons leer by Paulus. Kom ons leef onsself op vir die Here.


Gebed: Jesus, my Heer, ek wil nie elke dag onopgebruik op ’n geestelike rak rondstaan nie. Daarom vra ek: gebruik my. Gebruik my soos wat U wil.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page