Die waarheid hoort nie onder die mat nie
Teks: Lukas 12:2
Een episode uit ‘n Amerikaanse sepie resoneer steeds met my. Dit was in “The King of Queens” wat tussen 1998-2007 op die lug was. In hierdie episode besoek Doug en sy vrou sy ouers. Hulle word genooi om sy hond Rocky se 28ste verjaarsdag te vier. Doug vra toe hoe het Rocky so oud geword. Hierop erken sy ouers dat Rocky al ‘n paar keer vervang is met ‘n hond wat soos die eerste een lyk. Hulle trek eintlik nou by Rocky IV. Dan voeg sy ma by: “But we don’t talk about such unpleasant or uncomfortable things.” Geskok vra Doug se vrou: “What do you do with the truth, then?” Dan sê sy: “We sweep it under the rug, where it belongs!” Toe besluit hulle daar’s net een Rocky en hy is 28 jaar oud.
Hierdie verhaal resoneer met my omdat ek dikwels beleef hoe die waarheid onder die mat ingevee word. Mense glo die Bybel en praat oor die Here totdat dit bots met hulle eie leefstyl. Dan word die Bybel gerieflik geïgnoreer. Baie hou nie van die Bybel se “ongemaklike waarhede” nie, veral nie wanneer dit hulle eie idees oor seksualiteit, geldspandering en hulle loopbaanbeplanning uitdaag nie. Die evangelie moet inpas by hulle lewens, nie andersom nie. Tegnies gee hulle eintlik net hulle harte vir die Here, maar hou die res van hulle lyf vir hulleself. Dit mag nooit gebeur nie. God se Woord skuur soms teen ons eie grein. Terloops, wat doen jyself met die Here se waarheid as so iets met jou gebeur?
Gebed: Dit is nie aldag maklik om U te volg nie, o Here. Ek meld aan om u waarheid openlik en getrou uit te leef.




Comments