Om reg te rou, en reg te onthou
- Stephan Joubert
- Jul 14
- 1 min read
Die bekende skrywer, Henry James (1843-1916), skryf op ’n roerende wyse in sy dagboek oor die afsterwe van sy ma: “There seems not to be enough tenderness in my being to register the extinction of such a life. But I can reflect, with perfect gladness, that her work was done.” Wie van ons ken nie diep hartseer, wanneer ’n geliefde gesterf het nie.
Ons elkeen, wat reeds mense naby aan ons aan die dood moes afstaan, kan identifiseer met die volgende woorde van Henry James oor sy ma: “One can’t help wishing one had only known what was coming, so that one might have enveloped her with the softest affection.” Ons sou so graag net nog een oomblik saam met ’n geliefde wou hê, net nog een gesprek, net nog een stukkie van hulle nabyheid. As ons die horlosie net vir ’n paar oomblikke kon terugdraai…
Ons as gelowiges hou vas aan die belydenis dat Christus die dood gewen het, maar dit systap nie die pyn en verlange wat ons beleef wanneer die dood in ons eie omgewing opdaag nie. Ons huil en treur. Ons verlang. Maar ons moet ook aanhou leef, want die dood het nooit die finale sê nie. Ons moet kies om met hoop in die Here se teenwoordigheid te leef. Christus is ons troos in lewe en dood. Romeine 14:8 is ons padaanwyser: “As ons leef, leef ons om die Here te eer. As ons doodgaan, gaan ons dood om die Here te eer. Dus: of ons lewe en of ons doodgaan, ons is die Here S’n. Ons behoort aan Hom.” (NNT Vertaling)
Comments