Ons is regtig ook mense, op Jesus se manier
- Stephan Joubert
- 5 days ago
- 1 min read
Dit was die filosoof, René Descartes (1596-1650), wat gesê het ons wil so graag god speel, maar ons kry dit nie eens reg om behoorlik mens te speel nie. Jesus leer ons om dit andersom te doen. Terwyl almal gode wil wees, het Hyself gekies om mens te word. Dit was geen akteursrol wat Hy vooraf ingeoefen het nie.
Jesus het regtig geweet hoe dit voel om honger en dors te wees. Daar was geen geheime kospakkies wat daagliks uit die hemel by Hom afgelewer is nie. Of ’n hemelse Uber, wat Hom vinnig tussen verskillende plekke gekarwei het nie. Jesus moes te voet stap na elke plek waar Hy moes wees. Party nagte was die klippe in die veld sy kopkussings. Tussendeur het Jesus ook intense emosies beleef, soos sy woede en verslaendheid teenoor godsdienstiges wat Hom aangevat het omdat Hy ’n sieke op ‘n sabbatdag genees het. Of Sy groot hartseer toe Hy voor sy vriend Lasarus se graf gestaan het. Ook het Hy geweet hoe swaar dit is om stil te bly en niks te doen terwyl almal Hom beledig, geslaan en gespoeg het nie. Jesus het juis aan die kruis vir ons die regte voorbeeld gestel deur nooit kwaad met kwaad te vergeld nie, soos wat 1 Petrus 2 leer.
By Jesus leer ons wat egte menswees is. Ons leer by Hom van medelye, hartseer en pyn. Ons leer by Hom hoe om regtig te leef. Ons doen dit nooit op selfsugtige maniere nie. Jesus leer ons hoe om ’n lewende seën vir God en ander te wees.




Comments