top of page

Moenie oneties onthou nie

  • Stephan Joubert
  • May 11
  • 1 min read

Ons almal het al die volgende woorde kwytgeraak: “Ek het vergeet.” Wanneer geheue ter sprake is, kom ons almal tekort. Ons almal meen ons kort ’n beter geheue. Nogtans word ’n massa informasie elke dag in ons kop gestoor sonder dat ons dit eens weet. Ons herinneringe word hier verpak by wyse van assosiasies, verhale, smake, geure, kleure en belewenisse. 


Dis lewensbelangrik om te weet inligting word nooit objektief, vanaf A-Z in ons kop gestoor nie. Dit word ook nie op neutrale maniere gestoor of later weer herroep nie. Ons geheue koppel gevoelens van pyn, vreugde, geluk en hartseer aan gebeure uit die hede en die verlede.


Nog ’n belangrike feit om te weet: Ons geheue is nie vanself eties of moreel nie. In Bybelse taal uitgedruk: As ons nie gedurig ingryp by hoe ons onthou en hoe ons inligting herroep nie, hou ons kop graag boek van al die kwaad. Dieselfde geld vir sondige begeertes en gedagtes wat ons verhouding met die Here en ander mense negatief beïnvloed. 


Let wel: ’n Geheue wat nie bewustelik in toom gehou word nie, verander spoedig in ’n onetiese geheue. Dan stoor ons koppe graag sondige gevoelens, herinneringe en idees. Dan keer dit ook gedurig terug om ons van voor af te teister. 


Ons moet die Here gedurig vra om ons geheue met Sy teenwoordigheid te verlig en nuut te maak. Hy moet ons vrymaak van onetiese herinneringe en emosies wat steeds in die donker kamers van ons siel wegkruip. Ons moet anders onthou. Ons moet beter onthou. Ons moet reg onthou, dan leef ons reg.

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page