top of page

Nou is die tyd vir dapperheid by leiers (Deel 2)

  • Roedolf Botha
  • 1 day ago
  • 4 min read

Hierdie is die tweede brief onder die titel, “Nou is die tyd vir dapperheid by leiers”. In die eerste deel het ons gekyk na die artikel van Ranjay Gulati, wat daarop wys dat maatskappye steeds die eeue-oue gesegde moet nastreef, naamlik:


“Fortune favours the brave, not the cautious.”

Ons het gesien dat dapperheid ‘n keuse is wat aangeleer kan word. Daar is vyf maniere waarop die gewoonte van dapper keuses gevorm en gevestig kan word naamlik: 1) Hulle skep positiewe narratiewe; 2) kultiveer selfvertroue (confidence), 3) neem klein stappies om hulle eie begrip te vermeerder van die uitdagings waarmee hulle werk; 4) hulle maak konneksies en laastens 5) bly hulle kalm. Hierdie nuusbrief gaan ek dus hanteer as Deel 2 en die laaste drie maniere bespreek. Die eerste twee punte was:


  1. Skep ‘n positiewe verhaal

  2. Kultiveer selfvertroue (confidence)


Die volgende drie punte van hierdie deel behels die volgende:


  1. Neem klein stappies om jou mense se begrip van die uitdaging te verhoog

a. Evalueer objektief

Die aanvanklike sneller tot die hernuwingsproses waarvan sin gemaak moet word, is heel dikwels ‘n ontwrigtende gebeurtenis wat baie onsekerheid skep. Terwyl die leier se instink in daardie fase dinge mag insluit, soos vries of vlug, moet nadenkendheid en redelikheid nagejaag word om te verseker dat daaglikse keuses gedryf bly deur die mees objektiewe evaluering van wat aan die gebeur is. Vra vrae wat ons help om onsself in hierdie omstandighede beter te verstaan, soos: Wat beleef ek werklik hier? Watter emosies voel ek en waarom? Wie kan ek inroep en vra om my te adviseer? Watter onmiddellike stappe kan ek neem om beter te verstaan wat werklik aan die gang is? Hou die innerlike gevoelens sowel as die uiterlike realiteit belyn met mekaar.


b. Laat betekenis voorkeur geniet

Ondersoek en speur die omgewing na op soek na enige vorm van betekenis uit die data. Probeer patrone raak sien wat insig bring. Probeer ooreenkomste raaksien tussen wat nou gebeur, met wat jy al vroeër beleef het in ander situasies. Poog om hipoteses op te stel en toets dit.


c. Interpreteer terwyl jy beweeg

Handel dadelik op jou nuwe inligting of hipotese. Stel jouself bloot aan nuwe lydrade wat jou in staat stel om voort te beur, of om sake te heroorweeg en om te draai om weer te begin.


  1. Maak konneksies

    a. Draai na vennote en alliansies vir ondersteuning in die proses 

    Ons het almal ondersteuning nodig en die gevoel dat ons nie alleen is nie. Draai na mense en verhoudings in hierdie tyd wat jou steun en oor die algemeen dieselfde waardes as jy handhaaf. Hier is goeie mentors ook uiters nuttig. Moenie die alleenpad as ‘n leier probeer stap nie. Vriende en kollegas wat mekaar kan vashou in sulke onseker tye is van uiterste belang en moenie onderskat word nie.


b. Kry toegang tot bronne

Die konneksies wat jy maak, kan ook tasbare hulp verleen, insluitend mannekrag en finansiële hulp. Hierdie twee dinge is soms ‘n veiligheidsnet wat jou heelwat meer in beheer laat voel.


c. Aanvaar eerlike terugvoer

Dis belangrik dat hierdie mense in die verhoudingskonneksies wat jy maak, nie blote heuningsmeerders is wat vir jou slegs dinge sê wat jou laat beter voel nie, maar dat hulle ook eerlik met jou sal wees oor dinge wat jy nie helder sien, of reg verstaan nie. Opregte en nederige leiers moet oop wees vir terugvoer en gesonde kritiek.



  1. Bly kalm

    Hierdie gaan oor die vermoë om jouself emosioneel te reguleer, die vernuf om jou eie gevoelens en ervaringe te beïnvloed, spesifiek in tye wanneer jy die vlug, veg of vries snellers voel afgaan. Daar is spesifieke stappe wat jy kan neem om vrees te verminder, of om dit vinniger te laat verby gaan.


a. Leer die gewoonte van selfversorging aan

Om goeie besluite te neem in moeilike tye, moet leiers genoegsame slaap kry, sowel as die regte hoeveelheid voeding en water. Niemand kan helder dink wanneer hulle op dampe hardloop nie.


b. Aanvaar en omhels rituele

‘n Bekende en getoetste manier waarop leiers angs en stres verminder, is om rus te soek in die bekende en die voorspelbare, midde-in die onseker tye. Hierdie bekende en voorspelbare behels betekenisvolle fisiese of geestelike rituele, soos gebed, meditasie oor die Skrif en oefening. Dis noodsaaklik dat hierdie praktyke in besige en uitdagende tye nie afgeskeep word nie.


c. Herberaam die situasie

Leiers kan hulle eie vrees in toom hou deur te herdefinieer wat onsekerheid vir jou en jou organisasie oor die langtermyn beteken. Interpretasie en ‘n doelbewuste bewus maak daarvan in jou eie gemoed bly ‘n baie deurslaggewende manier van cope met realiteit. Dink na oor hoe dinge soos ‘n pessimistiese, realistiese of optimistiese opinie vir jou en jou organisasie binne ‘n nuwe beraming, oor ‘n lang termyn sal lyk. Dink jouself dan in hierdie nuwe definisies in en leef daarbinne sodat jou persepsie van risiko jou help om die gevare van jou situasie raak te sien, sonder dat jy toelaat dat jy daardeur verlam word.


Vir geestelike leiers is die benadering tot en hantering van vrees fundamenteel tot ons geloof. Geloofshelde in die geskiedenis van die kerk moes nog altyd gevaar, risiko en die mate van hulle geloof as teenfoeter daarvoor hanteer. Die welstand van baie organisasies hang af van hoe leiers hulle eie persoonlike vrese hanteer. 


Mag ons ons vrese leer bekamp sodat Jesus se koninkryk kan kom.







Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page