Selfgedifferensieerde leiers
‘n Paar nuusbriewe gelede het ons begin gesels oor Edwin Friedman se navorsing aangaande leierskap waarin hy die punt maak dat daar vandag ‘n gebrek aan durf en moed by leiers bestaan as gevolg van ons angstige samelewing. Leiers word in baie toksiese omgewings nie toegelaat om die leiding te gee wat hulle behoort te gee, om gemeenskappe te laat floreer nie. Ek sê “leiers word nie toegelaat nie”, maar Friedman bedoel ook dat leiers bang is om die leisels te neem. Ons het daarop gewys dat leiers wat teenoor moeilike mense te staan kom, eerder die konfrontasie vermy as gevolg van twee redes: die eerste is ‘n oordrewe vorm van toksiese empatie met die moeilike persoon, in plaas daarvan om die persoon aanspreeklik te hou. Die tweede rede is ‘n oordrewe afhanklikheid van data en informasie-insameling. Laasgenoemde is nie omdat nog informasie werklik nodig is nie, maar omdat die leier die situasie probeer oplos en makliker maak, nie deur die nodige aksie te neem nie, maar deur aanhoudend nog navorsing te doen. Die “navorsing” word dus eintlik ‘n emosionele coping-meganisme, waarmee die realiteit van leierskapsverantwoordelikheid vermy word.
Die groot vraag is nou watter soort leiers hierdie uitdagings kan oorkom, hulle durf terugkry sodat die gemeenskap op sy beste kan funksioneer. Hoe lyk die soort leiers wat die durf en waagmoed openbaar om die leiding in hierdie angsbelaaide wêreld van ons te neem? Friedman se antwoord is dat selfgedifferensieerde leiers die beste vaar. Hierdie soort leiers voldoen aan ‘n paar eienskappe.
Dis leiers wat die kapasiteit het om in ‘n intense emosionele sisteem standpunt in te neem. In ‘n emosionele ekosisteem waar mense angstig is, beskuldigings rondgooi en manipuleer, kan die leier kop hou, redelik en ongeïntimideer bly en leiding gee sonder om homself emosioneel te onttrek van almal te onttrek.
Dis leiers wat “ek” kan sê wanneer al die ander skree vir “ons”. Hierdie klink dalk redelik negatief, maar wat bedoel word is dat die leier as redelike individu gesond aanspreeklikheid kan aanvaar en hou by die gesonde waardes van die maatskappy, sonder om te val vir emosioneel-manipulerende groepsdruk van die massas. Tog kan hy na almal luister sonder om toe te laat dat hy gemanipuleer word.
Hierdie leiers kan hulle eie reaktiwiteit beheer te midde van die ander se reaktiwiteit. Terwyl mense beskuldig en blaam na die leier toe slinger, kan hy selfbeheersing toepas in so ‘n mate dat hy nie self reaktief optree nie. Hy kan vergewe, asook die vermoë openbaar om begrip te toon vir ander, al stem hy nie saam nie.
Dis om ‘n nie-angstige teenwoordigheid te wees te midde van al die ander wat angstig is. Hierdie is ‘n kern kenmerk van ‘n selfgedifferensieerde leier, naamlik dat hy vredevol, kalm en rustig in hierdie omstandighede bly omdat hy seker is van wie hy moet wees. Hulle is dus mense wat outomaties kan ophou om een van die sisteem se emosionele domino’s te wees. Die toksiese domino-ketting stop by hulle.
Sulke leiers is mense wat baie duidelik is oor hulle eie persoonlike waardes en lewensrigting. Die rede waarom hierdie soort leiers rustig en kalm in stormagtige weer kan bly, is juis omdat hulle uitverkoop is aan hulle eie persoonlike waardes en morele kompas. Vir ‘n Christen-leier is dit natuurlik sy eie geloof en geloofswaardes in Jesus wat hom staande en redelik en hou.
Dis om maksimum verantwoordelikheid te neem vir sy eie emosionele welstand, eerder as om ander mense, óf die konteks te blameer. Hierdie soort leier leef proaktief, blameer nooit terug nie, en neem aanspreeklikheid vir sy eie gemoedstoestand en geestelike welstand.
Wanneer ek na bogenoemde ses kenmerke kyk, dan sien ek eenvoudig ‘n toegewyde Jesus-volgeling. Christen-leiers moet Jesus-volgelinge wees, in woord én daad én denke. Só werk ons saam aan Jesus se koninkryk.




Comments