Wie sal lei in tye van onsekerheid?
Dit vat ‘n sekere tipe leier om te lei in onseker tye. Met onseker tye bedoel ek tye soos vandag, en uitdagende tye op ‘n gemeenskap se lewensreis. Ons leef in verskeie opsigte vandag in tye van kulturele oorgang, tye van politiese korrektheid en internasionale onsekerheid. Dit veroorsaak dat daar ‘n onderliggende angstigheid in ons ganse makrokultuur heers wat maak dat leiers risikobevrees is. Dit lei tot die “failure of nerve” (soos wat Edwin Friedman dit noem) by leiers, waaroor ons nou al in verskeie nuusbriewe gesels het. Die probleem hiermee is dat leiers nie kan lei sonder die neem van gepaste risiko nie. Die feit dat die kultuur rondom ons leiers bevrees, of ten minste versigtig maak, kanselleer ongelukkig nie die nodigheid in die neem van gepaste risiko’s uit nie. In onseker tye het ons juis leiers nodig wat dapper besluite kan neem. Innovasie, groei en volwassenheid kan nie plaasvind sonder om die vrees vir die neem van risiko’s te oorkom nie. In geestelike omgewings is dit geensins anders nie. Die kerk kweek eintlik dikwels juis hierdie soort van versigtigheid vir dapper en geloofsgemotiveerde besluite.
Friedman verduidelik dat die soort van leier wat ons vandag in besighede en kerke benodig, oor die tipiese eienskappe moet beskik waaroor ontdekkingsreisigers ‘n paar honderd jaar gelede beskik het. Vandag se leiers moet mense vanuit die Ou Wêreld na ‘n Nuwe Wêreld van lewe en ontdekking lei. Ons moet weer ‘n sin vir avontuur en opgewondenheid ontwikkel soos die mense van ouds. In ‘n baie insiggewende en goed nagevorste studie aangaande ‘n klompie ontdekkingsreisigers, tesame met nadenke oor ons huidige kultuur vandag, gekombineerd met die soort leierskap wat vandag benodig word, het Friedman met vyf eienskappe wat sommige ontdekkingsreisigers in gemeen gehad het, vorendag gekom. Christopher Columbus was die karakter wat hy gevoel het baie van die karaktereienskappe van die eerste ontdekkingsreisigers goed saamvat. Daar is vyf eienskappe wat ‘n leier vandag nodig het, wat gemeenskappe kan uit die apatie lei na ‘n nuwe plek van groei en ontdekking. Dis ‘n verdere ontwikkeling van die laaste brief aangaande selfgedifferensieerde leiers.
Die kapasiteit om homself buite die emosionele klimaat van die dag te kan plaas In Columbus se tyd was daar diep emosies oor die politieke klimaat van die dag en mense het ook geglo die wêreld is plat. Hulle het ‘n moontlike nuwe wêreld gevrees. Visie, oor die algemeen, is nog altyd gesien as ‘n rasionele of serebrale funksie. Friedman beskou hierdie as ‘n fundamentele denkfout wat deur die jare gemaak is. Die vermoë van ‘n visionêre leier om die wêreld anders te sien, en die effek van hierdie anderse uitkyk op die leier se funksionering is ‘n emosionele proses. Emosionele regulering is dus ‘n fundamentele vermoë wat ‘n leier aanleer.
‘n Gewilligheid om blootgestel te word en om kwesbaar te wees Een van die hoofbeperkinge van die vrug van die leier se visionêre verbeelding is die vrees om uit te staan. Dis meer as die blote vrees vir kritiek. Dis die angstige gedagte om alleen en eensaam te wees, om in die posisie te wees waar jy nie kan op ander kan staatmaak nie. Dis ‘n posisie wat die leier se leierskaparsenaal toets en onder druk plaas. Dis die vrees om in ‘n posisie te wees waar hy totale verantwoordelikheid moet aanvaar vir sy eie reaksie tot die omgewing. Friedman beweer dat leiers nie net nie sulke situasies moet vrees nie, maar hulle moet leer om daarvoor lief te wees!
Volharding in die aangesig van blatante verwerping Om die nodige vrug te kan beleef van ‘n nuwe avontuur van innovasie, is volharding onontbeerlik. Friedman gebruik die metafoor van slawerny: niemand het nog ooit beweeg van slawerny na vryheid terwyl die slawe-eienaars en slawedrywers die slaaf aanmoedig nie. Die weerstand wat ‘n leier beleef kom ewe veel van binne homself as van buite. Dis die stemmetjie wat sê: “Wie is jy dat jy dink jý is reg en al die ander is verkeerd?” Leiers moet hierdie stemmetjie in nederigheid oorkom.
Stamina in die aangesig van sabotasie langs die pad Onthou die Engelse spreekwoord: “No good deed goes unpunished.” ‘n Leier moenie vergeet dat een van die mees impakvolle uitdagings om enige sinvolle missie aan die gang te hou, is dat baie mense wat aanvanklik met groot entoesiasme die reis van leierskap en innovasie saam begin het, later hulle moed verloor. Muitery kom nie van die aanvanklike teenstaanders van die nuwe idee nie, maar dikwels aanvanklike vriende en vennote, wie se deursettingsvermoë langs die pad langs die pad deur onverhoedse moeilikheid leeggetap is.
Die gewilligheid om “hardkoppig” vir sommige voor te kom Hierdie punt moet reg verstaan word. Friedman is baie duidelik dat die innerlike karakter van ‘n leier moet getuig van selfloosheid, nederigheid en diensbaarheid. Maar dit maak nie saak hoe diensbaar iemand is nie, ‘n leier met gesonde visie, karakter en deursettingsvermoë word male sonder tal as hardkoppig beleef. Dit kan nie verhoed word nie. In my eie lewe onthou ek goed hoe ek al in situasies was waar ek as leier met die suiwerste motiewe ‘n besluit geneem het, werklik ter wille van die mense met wie ek saamwerk - die besluite is steeds deur sommige as selfsugtig en egosentries beskou.
As daar een saak is wat soos ‘n paal bo water uit hierdie vyf punte staan, dan is dit dat indien ons mense wil tevrede hou of populêr wil wees, leierskap nie vir ons is nie. Tog moet ons mense altyd liefhê, nie bitter raak nie en soveel mense as moontlik met ons probeer saamneem. Dis Jesus-leierskap. Dit laat my dink aan die woorde van die bekende Christelike lied Be Thou my Vision, wat sê:
Riches I heed not, nor vain empty praise
Thou mine inheritance, now and always
Thou and Thou only first in my heart
High King of Heaven, my treasure Thou art




Comments