
Lees Johannes 16:7
Dis vir Jesus baie belangrik dat ons die boodskap duidelik moet kry dat dit nie tot ons voordeel is dat Hy nie hier tussen ons op aarde aanbly nie. Daarom dat Hy dit vir ‘n tweede keer in Sy onderrig oor die Gees se werk in Johannes 14 en 16 hier sê. Jesus kon net een plek op ‘n keer wees toe Hy nog op aarde was. Maar die Gees is oral gelyktydig. Daarom is dit ‘n wonderlike omruiling: in die plek van Jesus, wat op pad is hemel toe, kom die Gees vanuit die hemel aarde toe. Daar sal nooit enige hemelse vakuum op aarde wees nie. Die hemel het gekom om hier op aarde te bly. Jesus se weggaan impliseer in dieselfde asem die Gees se koms in volheid.
Om alleen te wees, is glad nie lekker nie. Jesus weet dit. Daarom sorg Hy dat dit nooit met een van Sy mense gebeur nie. Natuurlik beteken die Gees se teenwoordigheid nie meteens die verdwyning van alle probleme nie. Inteendeel. Swaarkry is ‘n deel van die lewe. Enige Christen moet dit van tyd tot tyd in die oë kyk. Om egter hieruit af te lei dat God se seën afwesig is, is ‘n groot fout. Die Gees se teenwoordigheid is nie afhanklik van omstandighede nie. Hy ÍS altyd by ons, of die son nou skyn en of dit donker is! Glo dit asseblief.
Gebed:
Laat U volheid ons ook vervul, Heilige Gees van God. Amen
コメント