top of page

’n Onding genaamd "vryheid van spraak"

  • Liezel Lüneburg
  • May 27
  • 2 min read

Die reg op vryheid van spraak is ’n konstitusionele reg, wat in menige internasionale dokument en instrument vervat is. Ons Grondwet maak ook vir die reg op vryheid van uitdrukking in die Handves van Regte voorsiening.


Mense beroep hulle tot vervelens op dié reg. Hulle gebruik dit nie net nie, maar misbruik die vryheid en buit dit uit. Die wêreld, demokrasie en internet het dit moeiteloos gemaak om my opinie te lug en ander aan te vat wat van my mening verskil. Dit is belaglik maklik om ander uit te skel, te verkleineer en hulle menswaardigheid aan te tas.


My eerste gedagte is dat Christene nie die reg op vryheid van spraak behoort uit te oefen nie. Dit is ’n geldige gedagte, want dit is ongelukkig so dat selfs gelowiges mekaar en ander in die huidige klimaat aanval. Die wêreld is op bykans elke gebied verdeel en elke groep verdedig sy siening met woedende entoesiasme.


Ekself kom kort-kort in die versoeking om ’n sarkastiese eier te lê en die wag voor my mond is 24/7 aan diens.


As ek egter mooi daaroor gaan dink, het Christene eintlik ’n onbeperkte reg op vryheid van spraak. Hier praat ek van die uitoefening van die reg in my hoedanigheid as dissipel en gelowige, wat in die almagtige Here, die Skepper van alles op die aarde en in die hemel, glo. Ek verwys na myself as ’n aanhanger van Jesus Christus, wat doodeenvoudig nie kan stilbly oor die wonderlikhede, waarmee Hy my geseën het nie.


Ons het nie ’n onbeperkte aardse, demokratiese reg op vryheid van spraak nie, maar ’n heilige reg, wat Jesus self aan ons toegeken het. As gelowiges kan ons sê net wat ons wil net waar ons wil, solank dit die heilige reg is wat ons uitoefen en nie die wêreldse reg nie. Jesus self het dié reg aan ons toegeken:


Tydens Christus se intog in Jerusalem, het die skare juigende volgelinge God uit volle bors geprys. Natuurlik was daar ’n paar Fariseërs, wat dit nie kon verduur nie en Jesus gevra het om Sy volgelinge stil te maak. Maar Hy antwoord: "Ek sê vir julle: As julle stilbly, sal die klippe uitroep."


Dit is goed dat daar ’n wag voor my menslike mond is. Ek kan immers nie sê net wat ek wil vir wie ek wil nie.


Aan die ander kant bid ek dat ek die wag al hoe minder sal nodig hê soos wat ek my heilige reg op vryheid van spraak net so gereeld en met net soveel entoesiasme soos die wêreldse vryheid van spraak uitoefen. As ek God meer en meer, soos die juigende skare van ouds, op elke moontlike platform uit volle bors prys, sal ek tog sekerlik minder tyd en energie hê om ander uit te kryt en my mening op hulle af te dwing.


Soos Johannes gesê het: "Hy moet meer word en ek minder."

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page