Keuses, keuses, keuses!
- Alet Gardner
- Apr 22
- 2 min read
Ons 6-jarige seun, wat aangespreek was omdat hy in die klas dagdroom, se verduideliking was: “Hoe moet ‘n mens weet watter een die regte vrou is om mee te trou?” Vandag se jongklomp staan voor talle keuses: Watter vakke om te kies, wat om na skool aan te pak, waar om vir werk aansoek te doen, wie om as lewensmaat te kies … Ons praat nie eers van keuses rondom verblyf, die beplanning van ‘n gesin nie. Dan is daar die keuses rakende die ondersteuning van my kind in die keuses wat hy / sy weer moet maak.
Al hierdie keuses het verreikende gevolge, maar nie een soveel as die keuse waarvoor elke mens te staan kom nie: Die keuse waar ek die ewigheid gaan deurbring en die invloed wat dit op my lewe op aarde gaan hê. Die keuse waarvan Jesus in Johannes 1:12 praat: “Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” – AFR83. Johannes het verder geskryf: “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo”. - 1 Joh 1:12-13 AFR83
Hierdie sekerheid lei natuurlik daartoe dat my siening van die dood kan verander van angs na gerusstelling: Die dood beteken nie meer dat ‘n lig afgeskakel word nie; dis bloot dat ‘n lamp doodgeblaas word omdat die dag breek.
Erwin Lutzer beskryf die dood van ‘n gelowige in One Minute After You Die as ‘n “geskenk” van my Hemelse Vader aan my … ‘n deur na ‘n lewe vry van pyn en lyding, ‘n lewe wat onbeskryflik wonderlik is. ‘n Ewige lewe in die teenwoordigheid van die God wat my as Sy kind aanvaar het.
Dis egter so maklik om net te fokus op die gerusstelling dat ek die keuse gemaak het waardeur ek hierdie verstommende geskenk ontvang het. Daar is so baie ander, wat nog nie die lewensbelangrike keuse vir Jesus gemaak het nie. Dis asof ek daagliks in ‘n glastonnel by familie, vriende en vreemdelinge in die rigting van die hemel verbyreis, terwyl hulle dalk in alleryl in die teenoorgestelde rigting op pad is!
Ek kan eerder bid vir mense wat op pad is na ‘n ewigheid sonder Jesus. Ek kan saadjies saai en God vertrou om dit te laat groei tot die wedergeboorte van iemand wat nog nie daardie wonderlike sekerheid het van ‘n ewigheid in die teenwoordigheid van Jesus nie.
Aan die een kant is die uitnodiging daar (“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop … ” Openbaring 3:20). Aan die ander kant is daar Paulus se voorbeeld van dringendheid om hierdie blye boodskap aan ‘n stukkende en ongeredde wêreld uit te dra. Hy skaam hom nie vir die Evangelie nie, maar voel ‘n verpligting en het ‘n begeerte om vir ander van Jesus te vertel. (Romeine 1:14-16). Beide hiervan is ‘n keuse wat ek self moet maak.
[Lees gerus meer oor hierdie keuse op https://knowgod.com/af/fourlaws/ ]




Comments