top of page

‘n Betekenisvolle lewe – bietjie vir bietjie

  • Alet Gardner
  • 10 minutes ago
  • 2 min read

My lewe is betekenisvol, omdat die Skepper van die heelal my as sy kind aanvaar het. Hy het my kunstig in die moederskoot aanmekaar geweef, ‘n droom gehad vir hoe Hy my lewe wil gebruik om ander na Hom toe te trek.


Ja, Hy gebruik leiers en bekendes om sy boodskap uit te dra, maar Hy gebruik daagliks ook die “klein mensies” en die “klein dingetjiies” om sy lewensveranderende werk te doen. Naäman se jong diensmeisietjie was ‘n “niemand” todat sy haar baas van die profeet in Israel vertel het. Naäman se tweede les in “klein dingetjies” was natuurlik toe hy sy melaatsheid in die Jordaan se modderwater moes gaan afwas. 


‘n Jong man is onlangs na ‘n paar jaar in die gevangenis a.g.v betrokkenheid by dwelmmiddels op parool vrygelaat. Hy getuig hoe sy predikantpa Sondae “goeie” preke kon lewer, maar sy ma tuis fisies mishandel het. Die negatiewe “suurdeeg” van sy pa se optrede het veroorsaak dat hy sy rug op die kerk, die Bybel én die Here gedraai het. Die klein bietjies goeie “suurdeeg”, waaraan hy deur ‘n mannegroep in die tronk blootgestel was, het egter gegroei. Nou, na sy vrylating, is hy self besig om klein bietjies “suurdeeg” in die lewens van manne, wat op parool uit is, te saai.  


God se Gees, wat in my woon, bring vrug en gee gawes, nie primêr vir my vrede, geluk of genoegdoening nie, maar om hierdie “suurdeeg” só te gebruik dat ander na Hom aangetrek sal word. Wanneer ek vir die negatiewe suurdeeg van selfsug en onverdraagsaamheid groeikans gee, is die resultaat dat ‘n nie-gelowige opmerk: “As ‘n ateïs weet ek meer van onvoorwaardelike liefde as daardie Christen.” Ek kan egter kies om die krag, liefde en selfbeheersing, wat die Gees in my bewerkstelllig, uit te leef. Dan kan my kollega wat twyfel of selfs sy/haar rug op die Here gedraai het, iets van Jesus in my optrede raaksien. Wat ‘n vreugde en voorreg, wanneer hierdie kollega kies om Jesus as sy / haar Verlosser aan te neem. 


Natuurlik gaan ek nie hierdie “klein dingetjies” effektief in my eie krag kan doen nie.  Om die wil van God te ken, is dit belangrik dat ek tyd in persoonlike Bybelstudie en gebed spandeer én Hom vertrou om my te lei en bekragtig. 


[Not in your own strength] for it is God Who is all the while effectually at work in you [energizing and creating in you the power and desire], both to will and to work for his good pleasure and satisfaction and delight.  - Philippians 2:13 AMPC     

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page