‘n Ander soort selfversorging
- Helena Smith
- Jul 8
- 2 min read
In vandag se veeleisende en besige lewe val die klem baie op selfversorging. In tydskrifte en op die internet kry ‘n mens raad oor hoe om jouself fisies en geestelik goed te versorg. Ons lees wenke soos oefen gereeld, eet gesond, neem ‘n borrelbad, gaan stap met jou hond en vele meer.
Vandag het ek egter ‘n heel ander soort selfversorging op die hart – jou verhouding met jouself. Naas jou verhouding met God is jou verhouding met jouself die belangrikste. Natuurlik weet jy dat ‘n mens 24 uur per dag in jou eie geselskap leef! Is jy goeie geselskap vir jouself?
Jou brein stuur daagliks tot 60 000 boodskappe na jou toe deur. Baie van daardie boodskappe is ongelukkig negatief. Hoe hanteer jy hierdie stroom negatiewe boodskappe? As ‘n mens nie ‘n goeie verhouding met jouself het nie, sukkel jy om in ‘n gesonde verhouding met ander te leef.
In Matteus 22:37 en 38 lees ons Jesus se opdrag: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en belangrikste opdrag. Die tweede, ewe belangrike opdrag is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Ons doel in die lewe is om agente van God se liefde te wees. Hoe kan ek en jy die wêreld verander? Deur God lief te hê, myself lief te hê en my naaste lief te hê.
Ek kan my naaste nie regtig liefhê, as ek nie myself liefhet nie. Hoe kry ek dit reg om myself lief te hê?
Ek moet eers besef hoe lief God my het. In 1 Johannes 4:10 lees ons hoe lief God ons het. Hy het ons so liefgehad, dat Hy Sy Seun gestuur het om my en jou te red. Daardie Seun het in ons plek aan die kruis gesterf. Glo dat God jou liefhet, waardig ag en dat Hy Homself oor jou verheug. Verbreek jou bande met die vyand, wat vir jou vertel dat jy nie goed genoeg is nie. God het jou lief, ten spyte van jou lang lys sondes en tekortkominge.
Ware selfversorging beteken dat God die middelpunt van jou lewe is. Dit beteken dat jy jou storie en jou verlede moet aanvaar, al is dit hoe aaklig. ‘n Mens kan nie die verlede verander nie, maar met God se liefde kan jy die toekoms aandurf. Jy moet daagliks kies om jouself met al jou wonde en etikette lief te hê. Brené Brown sê: “Talk to yourself like someone you love.” Jy moet daagliks ook kies om jouself te vergewe, soos wat God jou vergewe.
Comentarios