top of page

Moenie net vir God werk nie

  • Stephan Joubert
  • 2 days ago
  • 2 min read

“Ek werk vir die Here.” Dit is ’n gewilde ding om te sê. Dalk is dit hoekom iemand wat hierdie woorde aangehoor het dadelik gereageer het: “En ek werk vir myself.” 


Ek verstaan hoekom mense sê hulle werk vir die Here. Dis nie verkeerd nie. Paulus moedig slawe in Kolossense 3:23-24 aan om hulle werk vir die Here te doen en nie vir hulle harde base nie, maar dis beter om voltyds vir die Here te leef as om net vir Hom te werk.  


Ons kan ’n slag ons werktaal eenkant sit, want God is ons Vader. Hy is nie ons Werkgewer nie. Ons is Sy kinders. Ons is kinders wat altyd tuis in God se huis is. Hy is ons Vader wat vir ons sorg. So naby is God aan ons dat Hy selfs die hare op ons kop tel. God ken ons deur en deur. God hou ons styf in Sy handpalms vas. Daarom wil ons graag naby aan Hom wees. Ons wil hê Hy moet die Rots wees op wie ons ons lewens bou. Ons wil voltyds vir Hom leef en nie net vir Hom werk nie. 


Hoor net hoe jubel Paulus oor ons kindskap in Romeine 8:15-16:

15) Julleself het die Gees van God ontvang, Hy sorg dat julle nie soos slawe is wat gedurig in vrees en angs vir God leef nie. Allermins! Julle het die Gees ontvang. Hy het julle verander en julle aangeneem as God se kinders. Deur die Gees roep ons aanhoudend uit in ons harte: “Abba, liefdevolle Vader!” Hyself bind ons met bande van liefde baie styf vas aan ons Hemelse Vader. 16) Die Gees oortuig ons hier diep binne-in ons harte dat ons God se kinders is. (NNT)

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page