top of page

Moenie dat woede jou skroefdraad beskadig nie

  • Stephan Joubert
  • 3 days ago
  • 1 min read

Skroefdraad word beskadig as ’n skroef of ’n bout skeef vasgedraai word. Ons almal het ook sulke skroefdraad rondom ons siel wat partykeer strip, soos wat die Engelse sou sê. Ek praat van al daardie onverwerkte, negatiewe emosies wat binne-in ons weggesteek is. Partykeer kom dit onverwags na die oppervlak as iemand ’n sarkastiese opmerking teenoor ons kwytraak. Of as daar op ons geskree word. Of as ons in die publiek verkleineer word. Of as ’n ander motor voor ons injaag. Dan haal die lewe die slegste in ons uit. Dan strip ons. Dan verloor ons dit, soos wat baie mense graag ook sê.


Ons mag nooit vrede maak met sulke strip-oomblikke nie, in elk geval nie as ons in ons verhouding met die Here wil groei nie. Dit hoort nie tuis in ons lewe nie. Sulke oomblikke wys vir ons dat daar nog ’n paar oop wonde in ons siel is wat verbind moet word. Dit wys vir ons daar skuil daar nog ’n stuk bitterheid en ’n gebrek aan vergifnis in die donker hoeke van ons hart. Ons moet leer om dit by God se voete neer te sit. O ja, soms is dit selfs nodig om met ‘n terapeut of vertroueling hieroor te gesels. Doen dit en word heel. Moenie aan donkerte vrye teuels gee nie. Moenie strip-oomblikke verhef tot normaal nie, want dit is nie! Laat toe dat die Here se vergifnis en deernis in jou groei. Laat toe dat Sy Gees jou vrymaak sodat jy waarlik vry kan wees. 

Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page