Maak nuwe vriende, God se soort vriende!
- Stephan Joubert
- 2 hours ago
- 2 min read
Teks: Psalm 146:8
Die term unfriend val nie te vreemd op ons ore nie. Dit wemel immers op sosiale media. Die Oxford Dictionary se omskrywing hiervan is glashelder: “To remove someone as a friend on a social networking site such as Facebook.” Hiervan gepraat, God is glad nie sterk op unfriend nie. Inteendeel. Die Bybel leer ons Hy maak graag vriende. Boonop leer die Bybel ons dat Hy hulle lewenslank as vriende wil behou.
Wonder jy dalk wie almal onder God se vriende gereken word? Wie bevriend Hy graag? Psalm 146:7-9 bied ’n verrassende kyk hierop. Hier in vers 7 lees ons God se vriende sluit diegene in wie se hoop op Hom alleen gevestig is. By name is dit die verdruktes en hongeriges wat die skerpkante van die lewe gedurig aan hulle eie lyf voel. God sien graag sulke mense raak, al loop die res van die wêreld by hullle verby. Gevangenes, blindes en terneergedruktes tel ook onder Sy vriende, soos wat vers 8 leer. Die Here tel hulle op en verbind hulle wonde. O ja, regverdiges, vreemdelinge, weeskinders en weduwees kry altyd ook plek in God se aardse vriendekring volgens vers 9. Nooit gaan die omstandighede en nood van God se vriende ongesiens by Hom verby nie. Vir wat unfriend onsself daardie mense so maklik vir wie God so baie omgee? Hoekom tel Psalm 146 se mense nie onder ons eie vriende nie? Dit lyk my dit is hoogtyd dat ons vanjaar ’n hele paar nuwe vriende maak, God se soort vriende!
Gebed: Heer, ek is baie jammer dat U vriende nie altyd my vriende is nie. Leer my om mense uit U vriendekring ook te bevriend.




Comments